EKSODUS 14:5-14

EKSODUS 14:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe die koning van Egipte die berig kry dat die volk vir goed weg is, het sy houding en dié van sy amptenare teenoor die Israeliete verander. Die Egiptenaars het gesê: “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt!” Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met 'n bemanning van drie. Die Here het die farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek. Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon. Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep. Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.” Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

EKSODUS 14:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe die koning van Egipte berig kry dat die volk weggekom het, het sy houding, asook dié van sy amptenare teenoor die volk verander. “Wat het ons aangevang om die Israeliete wat vir ons gewerk het van ons af te laat weggaan?” het hulle hulleself afgevra. Die farao het toe sy oorlogwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. Hy het ook al Egipte se oorlogwaens saamgeneem. Op elkeen was daar ’n bemanning van drie. Onder hulle was sy 600 beste oorlogwaens. Die HERE het die farao, Egipte se koning, vasberade gemaak. Hy het die Israeliete wat so maklik weggekom het, agternagesit. Egipte het hulle agternagejaag met al hulle perde, Farao se oorlogwaens, sy ruiters en sy leër. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle kamp opgeslaan het langs die see naby Pi-Hagirot oorkant Baäl-Sefon. Die farao het hulle begin inhaal. Toe die Israeliete sien dat die Egiptenaars agter hulle aan is, het hulle baie bang geword. Hulle het by die HERE begin pleit om hulle te help. Hulle het ook by Moses gaan kla: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons daar te begrawe nie dat jy ons hiernatoe moes bring om hier in die woestyn te sterf? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat trek? Het ons nie vir jou gesê om ons met rus te laat toe ons nog in Egipte slawe was nie? Dit was beter om slawe vir die Egiptenaars te wees as om lyke in die woestyn te wees!” Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die HERE julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie. Wag en kyk! Die HERE sal in julle plek veg.”

EKSODUS 14:5-14 Bybel vir almal (ABA)

Die koning van Egipte, die farao, het gehoor dat die Israeliete gevlug het. Hy en sy amptenare het toe gesê: “Ons het 'n fout gemaak. Ons het die Israeliete laat gaan, en nou is hulle nie meer ons slawe nie.” Die farao het toe die perde voor sy oorlogkar ingespan en hy het sy soldate saam met hom geneem. Hy het 600 goeie oorlogkarre geneem, al die oorlogkarre van Egipte. Daar was drie manne op elke oorlogkar. Die Here het die farao, die koning van Egipte, hardkoppig gemaak. Hy het die Israeliete gevolg en gejaag, maar die Here het die Israeliete beskerm toe hulle weggegaan het. Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg en gejaag. Die manne op die farao se oorlogkarre en sy soldate het tot by die Israeliete gekom. Die Israeliete se kamp was by die see, by Pi-Hagirot naby Baäl-Sefon. Toe die farao nader kom, het die Israeliete gesien dat die Egiptenaars hulle volg en jaag, en hulle het baie bang geword. Hulle het tot die Here gebid en hulle het Hom gevra om hulle te help. Maar vir Móses het hulle gesê: “Daar was baie plek in Egipte waar die mense ons kon begrawe. Hoekom het jy ons daar weggevat om in die woestyn dood te gaan? Wat het jy aan ons gedoen? Hoekom het jy ons uit Egipte gebring? Ons het vir jou in Egipte gesê jy moet ons los sodat ons die Egiptenaars se slawe kan wees. Dit is vir ons beter om hulle slawe te wees, beter as om in die woestyn dood te gaan.” Maar Moses het vir die Israeliete gesê: “Moenie bang wees nie. Bly waar julle is. Julle sal vandag sien dat die Here julle sal red. Julle sien vandag die Egiptenaars, maar julle sal hulle nooit weer sien nie. Die Here sal self oorlog maak en Hy sal vir julle veg teen die Egiptenaars. Julle moet stil wees.”

EKSODUS 14:5-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe die koning van Egipte berig ontvang dat die volk gevlug het, het die hart van Farao en van sy dienaars teenoor die volk verander, en hulle sê: Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie? Daarop het hy sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem. En hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem en al die ander strydwaens van Egipte, en die beste vegsmanne op elkeen daarvan. En die HERE het die hart van Farao, die koning van Egipte, verhard, sodat hy die kinders van Israel agtervolg het. Maar die kinders van Israel het deur 'n hoë hand uitgetrek. En die Egiptenaars het hulle agtervolg — al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag — en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon. Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep. En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe. Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.

EKSODUS 14:5-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe daar aan die koning van Egipte berig gebring is dat die volk gevlug het, het die farao en sy amptenare van besluit verander oor die volk. Hulle het gesê: “Wat het ons besiel dat ons Israel uit ons diens laat gaan het?” Hy het sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem. Hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem, asook al die ander strydwaens van Egipte, met 'n offisier op elkeen van hulle. Die HERE het die hart van die farao, die koning van Egipte, verhard, en hy het die Israeliete agtervolg, terwyl die Israeliete, gelei deur 'n verhewe hand, uitgetrek het. Die Egiptenare het hulle agtervolg. Die hele strydwamag van die farao, sy bemanning en sy leërmag het hulle ingehaal waar hulle by die see besig was om kamp op te slaan by Pi-Hagirot voor Baäl-Sefon. Toe die farao nader kom, kyk die Israeliete op, en daar is die Egiptenare besig om teen hulle op te ruk! Hulle was angsbevange. Die Israeliete roep toe na die HERE om hulp, en sê vir Moses: “Is dit omdat daar geen grafte in Egipte is nie, dat jy ons saamgeneem het om in die woestyn te sterf? Wat het jy ons aangedoen deur ons uit Egipte uit te lei! Is dit nie presies waaroor ons met jou in Egipte gepraat het nie, toe ons gesê het, ‘Laat ons met rus, sodat ons vir die Egiptenare kan werk! Dit is immers vir ons beter om vir die Egiptenare te werk as om in die woestyn te sterf.’ ” Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. Die HERE self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.”

EKSODUS 14:5-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En aan die koning van Egipte is meegedeel dat die volk gevlug het, en die hart van Farao en sy dienaars het teen die volk gedraai, en hulle het gesê: Waarom het ons dit gedoen, dat ons Israel laat trek het om ons te dien? En hy het sy strydwa gereed gemaak en sy volk saamgeneem. En hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem en al die strydwaens van Egipte en owerstes oor elkeen van hulle. En die HERE het die hart van Farao, die koning van Egipte, verhard, en hy het die kinders van Israel agternagejaag, en die kinders van Israel het met 'n hoë hand uitgetrek. Maar die Egiptenaars het hulle agternagejaag, al die perde en strydwaens van Farao en sy ruiters en sy leër, en hulle het hulle ingehaal wat by die see laer opgeslaan het, langs Pi-Hagirot, voor Baäl-Sefon. En toe Farao nader kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, die Egiptenaars trek agter hulle aan; en hulle was baie bevrees, en die kinders van Israel het die HERE aangeroep. Toe sê hulle vir Moses: Omdat daar geen grafte in Egipte was nie, het jy ons weggeneem om in die woestyn te sterwe? waarom het U so met ons gehandel om ons uit Egipte uit te lei? Is dit nie die woord wat ons in Egipte aan jou gesê het nie: Laat ons staan, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit was vir ons beter om die Egiptenaars te dien as dat ons in die woestyn sou sterf. Toe sê Moses vir die volk: Wees nie bevrees nie, staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy julle vandag sal wys; want die Egiptenaars wat julle vandag gesien het, julle sal hulle vir ewig nie meer sien nie. Die HERE sal vir julle veg, en julle moet swyg.

EKSODUS 14:5-14 Die Boodskap (DB)

Toe die koning van Egipte hoor waarheen die Israeliete op pad is, het hy en sy leiers hulle besluit verander. Hulle het gesê: “Wat op aarde het ons besiel om die Israeliete sommerso te laat wegkom?” Die farao het sy oorlogswa en sy perde laat inspan om hulle met sy troepe agterna te sit. Hy het 600 waens uitgesoek. Op elkeen was daar drie manne. Die Here het die farao kop laat verloor. Hy het soos ’n mal ding agter die Israeliete aan gestorm. Die Here het Israel egter teen die Egiptenaars beskerm. Die Egiptenaars met die farao se oorlogswaens en sy perde en sy hele leërmag is agter die Israeliete aan. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle by die see kamp opgeslaan het by Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon. Terwyl die farao al nader kom, het die Israeliete hulle nekke gerek om te sien wat aan die gang is. Toe hulle sien dis die Egiptenaars wat agter hulle aan is, het hulle hulle boeglam geskrik. Hulle het die Here begin soebat om hulle tog te help. Hulle het Moses ook begin verwyt: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons sommer daar al te begrawe nie? Moes jy ons hier na die woestyn toe bring dat ons hier kan doodgaan en hier begrawe word? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat padgee? Het ons nie in Egipte al vir jou gesê nie: ‘Los ons uit, dat ons eerder vir Egipte kan werk’? Dis tog baie beter om slawe in Egipte te wees as om hier in die woestyn dood te gaan!” Moses het egter vir die volk gesê: “Hou op om bang te wees. Staan vas net waar julle is. Julle gaan vandag sien hoe wonderlik die Here julle gaan red. Daardie Egiptenaars wat julle vandag daar voor julle sien, sal julle in der ewigheid nooit weer sien nie. Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg.”