Eksodus 14:5-14

Eksodus 14:5-14 AFR20

Toe daar aan die koning van Egipte berig gebring is dat die volk gevlug het, het die farao en sy amptenare van besluit verander oor die volk. Hulle het gesê: “Wat het ons besiel dat ons Israel uit ons diens laat gaan het?” Hy het sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem. Hy het seshonderd uitgesoekte strydwaens geneem, asook al die ander strydwaens van Egipte, met 'n offisier op elkeen van hulle. Die HERE het die hart van die farao, die koning van Egipte, verhard, en hy het die Israeliete agtervolg, terwyl die Israeliete, gelei deur 'n verhewe hand, uitgetrek het. Die Egiptenare het hulle agtervolg. Die hele strydwamag van die farao, sy bemanning en sy leërmag het hulle ingehaal waar hulle by die see besig was om kamp op te slaan by Pi-Hagirot voor Baäl-Sefon. Toe die farao nader kom, kyk die Israeliete op, en daar is die Egiptenare besig om teen hulle op te ruk! Hulle was angsbevange. Die Israeliete roep toe na die HERE om hulp, en sê vir Moses: “Is dit omdat daar geen grafte in Egipte is nie, dat jy ons saamgeneem het om in die woestyn te sterf? Wat het jy ons aangedoen deur ons uit Egipte uit te lei! Is dit nie presies waaroor ons met jou in Egipte gepraat het nie, toe ons gesê het, ‘Laat ons met rus, sodat ons vir die Egiptenare kan werk! Dit is immers vir ons beter om vir die Egiptenare te werk as om in die woestyn te sterf.’ ” Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. Die HERE self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.”

Video vir Eksodus 14:5-14

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 14:5-14