Handelinge 21:1-16

Handelinge 21:1-16 DB

Dit was bitter moeilik om van Efese se ouderlinge afskeid te neem. Nadat ons dit gedoen het, het ons tot by die eiland Kos gevaar. Daar het ons die aand oorgeslaap. Die volgende dag het ons tot in Rodos en van daar af na Patara gevaar.Daar aangekom, het ons ’n boot gehaal wat ons tot in Fenisië geneem het. Van daar af is ons na Siprus toe, waar ons oor Sirië tot in Tirus gevaar het. Die skip het daar anker gegooi. Terwyl ons gewag het dat die skip se vrag afgelaai word, het ons besluit om by die gelowiges in die stad te gaan oorbly.Ons het toe sewe dae by hulle deurgebring. Terwyl ons daar in Tirus was, het die Heilige Gees ’n paar gelowiges gelei om vir Paulus te sê om nie Jerusalem toe te gaan nie. Later, toe ons skip reg was om te vertrek, het die hele gemeente ons kom groet. Mans, vroue en kinders, almal was daar. Hulle het saam met ons tot by die hawe gestap. Dit was net buitekant die stad. Daar op die strand het ons almal eers neergekniel en saamgebid.Toe het ons mekaar gegroet en op die skip geklim. Ons het van Tirus af na Ptolemaïs gevaar. Daar het ons die gemeente besoek. Hulle het gereël dat ons sommer ook daar by hulle oorslaap. Die volgende dag het ons na Sesarea vertrek, waar ons ’n ruk lank by Filippus gebly het. Hy is een van die sewe mans wat vroeër daar in die Jerusalemgemeente gehelp het om die armes te versorg.Hy het nou in Sesarea gebly, waar hy die goeie nuus oor Jesus verkondig het. Filippus het vier dogters gehad wat nog nie getroud was nie. God het aan hulle die gawe gegee om as profete op te tree en sy wil aan ander mense bekend te maak. Terwyl ons by Filippus gebly het, het ’n profeet uit Judea met die naam Agabus ook daar aangekom. Daar voor almal kom vat hy Paulus se belt en maak dit om sy hande en voete vas. Toe sê hy: “Luister wat die Heilige Gees vir julle sê: ‘Die man aan wie hierdie belt behoort, gaan op presies dieselfde manier in Jerusalem deur die Jode vasgebind word. Dan gaan hulle hom aan die Romeine uitlewer.’” Toe ons dit hoor, was ons baie omgekrap. Ons het Paulus oor en oor gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie, maar hy wou nie na ons luister nie. “Hoekom probeer julle om my van my plan te laat afsien?” het hy ons gevra. “Netnou oorreed al julle gehuil my om nie meer Jerusalem toe te gaan nie. Kom ek sê reguit vir julle: dis glad nie vir my ’n probleem as ek in Jerusalem in die tronk beland nie. Ek gee nie eens om as hulle my doodmaak ter wille van die Here Jesus nie!” Toe ons besef dat ons Paulus nie kon oorreed om weg te bly uit Jerusalem nie, het ons besluit om nie verder met hom daaroor te praat nie. “Ons bid net dat God se wil in jou lewe sal geskied. Mag al sy planne met jou lewe waar word,” het ons vir hom gesê. ’n Paar dae later het ons Jerusalem toe vertrek. ’n Klompie van die gelowiges in Sesarea het saam met ons soontoe gereis. Langs die pad het ons by ’n gelowige met die naam Mnason oorgebly. Hy was al oud. Hy het ons goed ontvang omdat hy goeie vriende was met die gelowiges in Sesarea wat saam met ons gereis het.