Handelinge 21:1-16

Handelinge 21:1-16 AFR20

Nadat ons ons van hulle weggeskeur het, het ons weggevaar, reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag na Rodos gevaar, en daarvandaan na Patara. Daar het ons 'n skip gevind wat na Fenisië sou oorvaar, aan boord gegaan en weggevaar. Ons het binne sig van Ciprus gekom, maar dit aan ons linkerkant gelaat in ons verbyvaart na Sirië, en by Tirus aan wal gegaan, omdat die skip se vrag daar afgelaai sou word. Ons het die dissipels opgesoek en sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het onder leiding van die Gees vir Paulus gesê om nie na Jerusalem te gaan nie. Nadat ons die tyd daar deurgebring het, het ons vertrek en verder gereis. Almal, ook hulle vroue en kinders, het ons tot buitekant die stad begelei. Ons het op die strand gekniel en gebid. Nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord van die skip gegaan, terwyl hulle na hulle huise teruggekeer het. Ons het ons reis van Tirus beëindig met ons aankoms by Ptolemaïs. Daar het ons die broers gaan groet en 'n dag lank by hulle oorgebly. Die volgende dag het ons vertrek en in Caesarea aangekom. Ons het na die huis gegaan van die evangelis Filippus, een van die sewe, en by hom tuisgegaan. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat oor die gawe van profesie beskik het. Terwyl ons 'n hele paar dae daar oorgebly het, het 'n sekere profeet met die naam Agabus uit Judea daar aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, en sy eie voete en hande daarmee vasgebind, en gesê: “So sê die Heilige Gees, ‘Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.’ ” Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike mense Paulus gesmeek om nie na Jerusalem op te gaan nie. Daarop het Paulus geantwoord: “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus. ” Omdat hy hom nie laat oorreed het nie, het ons geswyg en net gesê: “Laat die wil van die Here geskied.” Ná hierdie dae het ons gereedgemaak en na Jerusalem opgegaan. Van die dissipels uit Caesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons geneem na Mnason, 'n man uit Ciprus, en lank reeds 'n dissipel, by wie ons sou tuisgaan.