Handelinge 16:12-40

Handelinge 16:12-40 DB

Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly. Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly. Toe ons op ’n dag weer op pad was na die plek waar ons gebid het, het ons ’n slavin raakgeloop. Sy het ’n bose gees in haar gehad wat haar in staat gestel het om ander se toekoms te voorspel. Haar eienaars het baie geld uit haar gemaak. Toe sy vir Paulus sien, het sy agter hom begin aanloop. Sy het heeltyd uitgeroep: “Hierdie mense dien die allerhoogste God.” Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur. Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad. Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad.Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.” Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.” Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar.Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.” Die hoof van die tronk het toe vir Paulus en Silas na sy huis toe gevat. Almal in die huis moes hoor wat hierdie twee mans oor die Here te sê gehad het. Later het die tronkbewaarder agtergekom dat Paulus en Silas se wonde nog nie skoongemaak is nie. Hy het hulle gou-gou buitetoe gevat om dit te doen. Daarna is hy en sy hele huisgesin ook gedoop. Toe het almal weer in die huis ingegaan en saamgeëet. Die hoof van die tronk en almal in sy huis was baie bly dat hulle nou ook in God geglo het. Intussen, teen dagbreek se kant, het die hooflanddroste ’n boodskap met ’n paar polisiemanne na die tronk toe gestuur. “Laat daardie mans dadelik los!” was hulle opdrag aan die hoof van die tronk. Hy het toe vir Paulus en Silas hierdie nuus gaan meedeel: “Die hooflanddroste het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Gaan in vrede.” “O nee, hulle het ons in die openbaar laat slaan sonder enige verhoor. Boonop het hulle ons, wat wetsgehoorsame Romeinse burgers is, in die tronk gegooi,” het Paulus geantwoord. “Nou wil hulle ons stilletjies loslaat. Nee, ons sit in die tronk totdat hulle ons om verskoning kom vra en ons hier uitlei.” Toe die hooflanddroste hoor wat Paulus gesê het, het hulle hulle yskoud geskrik. Hulle het nie besef dat Paulus en Silas Romeinse burgers was nie. Daarom is hulle haastig na die tronk toe om hulle om verskoning te gaan vra. Hulle het vir Paulus en Silas uit die tronk gelei en hulle mooi gevra om die stad te verlaat. Hulle twee het eers na Lidia se huis toe gegaan om van al die gelowiges afskeid te neem. Paulus en Silas het hulle nuwe broers en susters in die Here aangemoedig om te volhard op die pad van die Here. Toe het hulle vertrek.