en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal.
Terwyl ons 'n keer op pad was na die bidplek, het 'n slavin met 'n gees van waarsêery wat met haar voorspellings baie wins vir haar eienaars ingebring het, ons tegemoet gekom. Sy het agter Paulus en ons aan geloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle 'n weg tot verlossing!” Dit het sy dae aaneen gedoen. Paulus het daaroor ontsteld geraak, omgedraai en vir die gees gesê: “Ek gebied jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan!” En presies op daardie oomblik het die gees uitgegaan. Toe haar eienaars merk dat hulle hoop op 'n inkomste daarmee heen was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die owerhede; en nadat hulle hulle voorgebring het, het hulle vir die stadsbestuurders gesê: “Hierdie mense stook onrus in ons stad, want hulle is Jode en verkondig gebruike wat vir ons as Romeine nie toelaatbaar is om te aanvaar of na te volg nie.” Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem.
Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop. Hy het hulle na sy huis geneem en 'n ete voorgesit. Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het.
Teen dagbreek het die stadsbestuurders die geregsdienaars gestuur met die opdrag: “Laat daardie mense vry!” Die tronkbewaarder het die boodskap aan Paulus oorgedra: “Die stadsbestuurders het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Kom dan nou uit en gaan in vrede!” Maar Paulus het die geregsdienaars geantwoord: “Hulle het ons sonder verhoor in die openbaar laat slaan en in die tronk laat gooi, alhoewel ons Romeinse burgers is, en nou wil hulle ons stilletjies uitgooi? Beslis nie! Laat hulle ons self kom uitlei.” Die geregsdienaars het hierdie boodskap aan die stadsbestuurders oorgedra. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword. Hulle het hulle om verskoning kom vra, hulle uitgelei en versoek om die stad te verlaat. Toe hulle uit die tronk kom, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die broers gesien, hulle moed ingepraat en vertrek.