HANDELINGE 16:12-40

HANDELINGE 16:12-40 NLV

Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly. Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het. Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ’n slavin met ’n waarsêersgees ons raakgeloop. Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.” Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het oombliklik uit haar uitgegaan. Toe haar eienaars sien dat hulle vooruitsig om geld te maak verdwyn het, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die leiers op die stadsplein gesleep. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense maak moeilikheid in ons stad; hulle is Jode. Hulle leer vir ons gebruike wat ons, omdat ons Romeine is, nie kan aanvaar of navolg nie.” Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word. Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom! Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!” Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig. Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense. Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het. Toe dit dag word, het die stadsowerhede polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense vry!” Die tronkbewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die landdroste het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan dan nou vertrek; gaan in vrede.” Maar Paulus het geantwoord: “Ons is sonder dat ons skuldig bevind is, in die openbaar geslaan en in die tronk gestop – en dít terwyl ons Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons sommerso stilletjies ontslaan. Volstrek nie! Laat hulle ons self kom uitlei!” Die polisie het hierdie boodskap vir die stadsowerhede vertel, en hulle het groot geskrik toe hulle hoor Paulus en Silas is Romeinse burgers. Hulle het hulle om verskoning gevra, hulle uit die tronk gelei en hulle gevra om die stad te verlaat. Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek.