Die Olyfberg waar Jesus van sy dissipels afskeid geneem het, is sowat ’n kilometer van Jerusalem af. Daarvandaan het die apostels toe teruggestap stad toe, na ’n groot kamer op die boonste verdieping van een van die geboue. Daar het hulle gereeld bymekaargekom. Al die oorblywende apostels was daar: Petrus, Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Simon wat ’n Seloot was, en ook Judas die seun van Jakobus. Hulle het elke dag saamgebid. Van die gelowige vroue het saam met hulle kom bid, so ook Maria, Jesus se ma, sy broers en ’n klompie ander gelowiges. Later was daar by die 120 mense in die kamer bymekaar. Op ’n dag het Petrus vir hulle gesê: “Broers en susters, ek wil eers met julle oor daardie verraaier van ’n Judas praat. Ek kan nou nog nie glo dat hy kop in een mus was met die spul wat vir Jesus gevang het nie. Ja, hy het dit alles beplan. “Om te dink dat Judas heeltyd een van ons was! Met die omkoopgeld wat hy gekry het om Jesus te verraai, het hy vir hom ’n stuk grond gaan koop. Maar hy is ’n paar dae gelede daar dood. Hy het hom doodgeval. Sy binneste het oopgebars van die val sodat hy hom doodgebloei het. Dalk het julle ook daarvan te hore gekom. Judas se dood is immers hoofnuus hier in Jerusalem se strate. Die mense noem daardie stuk grond van hom nou Bloedgrond, of soos hulle in Hebreeus sê: Akeldama. “In een van die psalms van Dawid staan daar: Laat sy grond leeg staan sodat niemand daar gaan bly nie. “Dawid het ook gesê: Iemand anders moet sy werk oorneem. “Judas se plek in ons kring van apostels is nou leeg. Ons moet iemand in sy plek kies. Maar dit moet iemand wees wat heeltyd saam met ons in Jesus se geselskap was, van daardie dag af toe Hy deur Johannes die Doper gedoop is totdat Hy hemel toe is.” Twee name is toe opgegee: Josef Barsabbas (sy bynaam was Justus) en Mattias. Toe het al die gelowiges gebid en gesê: “Here, U weet presies wat in mense se binneste aangaan. U ken ons almal deur en deur.
Lees Handelinge 1
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Handelinge 1:12-24
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's