Handelinge 1:12-24

Handelinge 1:12-24 AFR20

Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, 'n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het: •Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Thomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus, seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas, die seun van Jakobus. Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers. In daardie dae het •Petrus tussen die broers opgestaan – daar was ongeveer honderd-en-twintig mense bymekaar – en gesê: “Broers, die Skrifwoord moes vervul word wat die Heilige Gees vroeër by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het. Hy het vir die mense wat Jesus gearresteer het, as gids opgetree, aangesien hy een uit ons geledere was, en deel gehad het aan ons bediening. Hy het mos 'n stuk grond aangeskaf uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het onder al die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. Want daar staan in die Psalms geskryf: “ ‘Laat sy woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin bly nie.’ En: “ ‘Laat 'n ander sy amp as opsiener oorneem.’ “Daarom moet een van daardie manne wat die hele tyd saam met ons onderweg was terwyl die Here Jesus onder ons gekom en gegaan het, van die begin af, van die doop van Johannes af, tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is, saam met ons as 'n getuie van sy opstanding optree.” Hulle het toe twee voorgestel: Josef, bekend as Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias. Daarop het hulle soos volg gebid: “U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het