2 Samuel 16:5-13

2 Samuel 16:5-13 DB

Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom een van Saul se familie uit die dorp uit. Sy naam was Simeï. Hy was Gera se seun. Sommer met die uitkomslag begin hy vir Dawid en sy amptenare vloek en hulle met klippe gooi waar hulle tussen die soldate en sy beste vegters staan. Hy vloek en skree vir Dawid: “Voertsek, jou moordenaar! Jou lae vent! Die Here betaal jou nou terug vir al Saul se mense wat jy laat doodmaak het toe jy die koningskap gesteel het! Die Here het nou vir Absalom koning gemaak en jy’s in die moeilikheid oor jy ’n moordenaar is!” Abisai, Seruja se seun, sê vir Dawid: “Maar waar kom dié dooie hond daaraan om my koning so te vloek? Laat ek soontoe gaan en sy kop vir hom inmekaar slaan!” Maar die koning sê: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Laat die man vloek. Miskien het die Here vir hom gesê hy moet my vloek. Wie kan dan vir hom sê: ‘Hoekom doen jy dit?’” Dawid sê toe verder vir Abisai en al sy amptenare: “My bloedeie kind wil my doodmaak. Wat moet ’n mens dan van hierdie Benjaminiet verwag? Los hom uit. Laat hy maar vloek. Dalk het die Here vir hom gesê hy moet dit doen. Wie weet, dalk sien die Here my moeilikheid raak en gee Hy my later iets goeds vir die gevloek wat ek vandag moet verduur.” Dawid en sy mense het padlangs verder geloop. Simeï het al teen die rant geloop. Hy het nog steeds gevloek en hulle met klippe en kluite gegooi.