2 Samuel 15:1-22

2 Samuel 15:1-22 DB

’n Ruk later het Absalom vir hom ’n kar en perde gekry en 50 manne wat sy lyfwag was. Hy het elke môre vroeg opgestaan en langs die pad gaan wag waar die mense in die stad inkom. Elkeen wat ’n hofsaak gehad het en wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing het daar verbygegaan. Dan het Absalom die man geroep en vir hom gevra waar hy vandaan kom. As hy sê hy kom uit een van die dorpe van die Israeliete, sê Absalom vir hom: “Jong, al het jy ’n goeie saak, is ek bevrees jy sal nie ’n regverdige verhoor by die koning kry nie.” Hy voeg dan sommer by: “As ék darem die hoogste regter was, sou elkeen wat met sy saak na mý toe gekom het ’n regverdige uitspraak gekry het, hoor!” As enigiemand na hom toe gekom het om voor hom te buig, het Absalom sy hand gevat en hom nader getrek en omhels. Hy het met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing, so gemaak. Op dié manier het Absalom die Israeliete se harte gewen. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil baie graag ’n belofte wat ek vir die Here gemaak het, in Hebron gaan nakom. Toe ek nog in Gesur by die Arameërs was, het ek vir die Here belowe dat, as Hy my regtig na Jerusalem toe terugbring, ek vir Hom in Hebron sal gaan offer.” Die koning het gesê: “Gaan maar, en ek hoop alles gaan goed.” Hy het dadelik Hebron toe gegaan. Intussen het hy in die geheim vir al die stamme in Israel se leiers laat weet: “As julle hoor die mense blaas op ramshorings, moet julle skree: ‘Absalom het koning geword in Hebron!’” Daar het 200 mans saam met Absalom van Jerusalem af na Hebron toe gegaan. Hulle was genooi en het ewe onskuldig saamgegaan, want hulle het niks van die hele affêre geweet nie. Absalom het ook vir Agitofel wat in die dorpie Gilo gebly het, na die offerfees laat kom. Agitofel het altyd vir Dawid goeie raad gegee. So het Absalom se geheime plan al hoe gevaarliker geword, want meer en meer mense het by hom aangesluit. Toe Dawid hoor die Israeliete het Absalom se kant gekies, sê hy vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Ons moet maak dat ons wegkom, voor Absalom ons in die hande kry! Julle moet gou maak en padgee, anders keer hy ons hier vas en dan het ons groot moeilikheid. Hy sal die mense in die stad voor die voet doodmaak.” Hulle het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat u sê, U Majesteit. Ons staan by u.” Die koning is te voet uit die stad uit en al sy mense is agter hom aan. Hy het net tien van sy haremvroue in die paleis gelos om die plek op te pas. Toe die koning uit die stad gaan, is al sy eie manskappe ook agterna. By die laaste huis het die koning en sy mense gaan staan. Al die koning se eie soldate en sy hele lyfwag het voor hom verbygegaan. Die 600 man uit Gat wat by hom aangesluit het, het ook voor hom verbygegaan. Hy sê toe vir Ittai, die leier van die manne van Gat: “Hoekom gaan jy ook saam met ons? Gaan terug en bly by die nuwe koning. Jy kom uit ’n ander land en jy kan nie na jou eie plek toe teruggaan nie. Jy is maar ’n kort rukkie by ons en nou moet jy al weer oral rondtrek saam met ons. Ek weet nie eens waar ek heengaan nie. Laat jou mense teruggaan. Ek hoop dit gaan baie goed met jou.” Maar Ittai sê vir die koning: “Ek bly by u, my koning, so waar as die Here leef, en so waar as u leef. Waar u is, of dit nou in die lewe of in die dood is, sal ek ook wees.” “Goed,” sê Dawid, “bly dan maar by ons.” Ittai, die man uit Gat, en al sy manskappe met hulle vroue en kinders het toe by Dawid-hulle gebly.