2 SAMUEL 15:1-22

2 SAMUEL 15:1-22 NLV

Kort hierna het Absalom vir hom ’n koets en perde aangeskaf. 50 man het voor hom uit gehardloop. Hy het elke oggend vroeg opgestaan en by die ingang na die stad gaan stelling inneem. Wanneer mense na die koning toe daar verbykom om uitspraak oor ’n saak te kry, het Absalom hulle gevra: “Van watter stad kom jy?” As hy sê dat hy uit een van die stamme van Israel kom, sê Absalom: “Jy het ’n sterk en regverdige saak, maar daar is niemand om namens die koning na jou te luister nie.” Dan voeg hy by: “As ek maar as regter in die land aangestel was, kon elkeen met ’n regsgeding of ’n klagte na my toe kom en ek sou regverdige uitsprake lewer!” Wanneer iemand dan voor hom wil buig, het hy sy hand gevat, hom omhels en hom gesoen. So het Absalom gemaak met elkeen wat vir regspraak na die koning toe gekom het. Op hierdie manier het hy die toegeneentheid van almal in Israel gewen. Na vier jaar sê Absalom vir die koning: “Laat my toe om na Hebron toe te gaan om daar my gelofte vir die HERE te gaan betaal. Terwyl ek in Gesur was, het ek belowe dat ek die HERE sal aanbid as Hy my na Jerusalem toe terugbring.” “Gaan gerus maar,” antwoord die koning hom. Absalom het toe na Hebron toe gegaan. Terwyl hy daar was, stuur hy boodskappers na al die stamme van Israel en sê: “Sodra julle die trompette hoor, moet julle sê: ‘Absalom is in Hebron tot koning gekroon.’” Hy het 200 gaste uit Jerusalem saamgeneem. Hulle het niks geweet van die hele plan nie. Hy het ook vir Agitofel, een van Dawid se raadgewers wat in Gilo gewoon het, laat haal waar hy besig was om te offer. Kort voor lank het al hoe meer mense hulle by Absalom aangesluit sodat die sameswering al groter afmetings aangeneem het. Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!” “Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.” “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle. Die koning en sy huishouding het toe dadelik te voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg. Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan. Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat. Terwyl hulle voor die koning verbytrek, vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap. Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die HERE se goedheid en trou met jou wees.” Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die HERE leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.” Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” Ittai en sy 600 manne en hulle families het toe saamgegaan.