2 SAMUEL 15:1-22
2 SAMUEL 15:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Later het Absalom vir homself 'n oorlogkar en perde gekry en 50 manne wat voor die oorlogkar hardloop. Hy het elke oggend vroeg opgestaan en hy het by die pad deur die poort gaan staan. Wanneer daar iemand kom wat wil hê dat die koning moet oordeel tussen hom en iemand anders, dan het Absalom hom geroep en vir hom gevra van watter stad hy kom. Wanneer die man dan sê van watter stad en van watter stam hy kom, dan het Absalom vir hom gesê: “Luister na my, jy is reg, maar die koning sal nie wil luister na jou nie.” Absalom het dan ook gesê: “As ek die regter in die land was, dan sou ek reg gedoen het aan elkeen wat na my toe gekom het om te vra dat ek moet oordeel tussen hom en iemand anders.” En wanneer iemand nader gekom het om voor Absalom te buig, dan het Absalom sy hand uitgesteek en hy het hom gedruk en gesoen. Absalom het dit gedoen met elke Israeliet wat na die koning toe gekom het sodat die koning moet oordeel tussen hom en iemand anders. Al die mense van Israel het lief geword vir Absalom. Toe Absalom vier jaar lank terug was in Jerusalem, het hy vir die koning gevra: “Ek wil graag na Hebron gaan om te doen wat ek vir die Here belowe het. Want toe ek in Gesur, in die land Aram, gewoon het, het ek 'n gelofte gemaak. Ek het belowe dat ek in Hebron offers sal gaan bring vir die Here as Hy my laat terugkom na Jerusalem.” Die koning het vir hom gesê: “Jy mag gaan.” Absalom het gereedgemaak en hy het na Hebron gegaan. Absalom het boodskappers gestuur na al die stamme van Israel toe en hy het vir hulle laat weet: “Wanneer julle die ramshoring hoor blaas, dan moet julle sê: ‘Absalom het koning geword in Hebron.’ ” Absalom het 200 manne van Jerusalem genooi, en hulle het saam met hom gegaan. Hulle het nie saam met hom planne gemaak nie en hulle het nie geweet wat hy wil doen nie. Terwyl hy die offers gebring het, het Absalom vir Agitofel laat haal uit sy stad Gilo. Agitofel was 'n raadgewer van Dawid. Die manne wat wou hê dat Absalom koning moet word, het meer en meer geword. Iemand het vir Dawid gaan vertel dat die manne van Israel wou hê dat Absalom koning moet word. Dawid het toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem was, gesê: “Julle moet gereedmaak sodat ons kan vlug, want Absalom sal nie een van ons laat lewe nie. As julle nie gou maak nie, sal Absalom vinnig kom en hy sal ons hier kry. Hy sal nie jammer wees vir ons nie, hy sal al die mense in die stad doodmaak.” Die amptenare van die koning het vir hom gesê: “Die koning moet sê wat hy wil hê, ons sal dit doen.” Die koning en sy hele familie het toe begin loop en hulle het uit die stad gegaan. Hy het tien van sy byvroue daar laat bly om die paleis op te pas. Toe die koning en al die mense uit die stad loop, het hulle gaan staan by die laaste huis by die kant van die stad. Al sy amptenare het by hom verbygeloop, en ook al die Kretense en Filistyne wat die koning moes oppas. Daar het 600 manne van die stad Gat gekom saam met Dawid. Toe hulle by die koning verbyloop, het Dawid vir Ittai van Gat gevra: “Hoekom wil jy ook saam met ons gaan? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy kom van 'n ander land, jy woon nie in jou eie land nie. Jy is nie lank hier nie. As jy saam met ons kom, dan sal jy swaarkry saam met ons wanneer ons moet vlug en oral moet gaan. Draai om en laat jou manne saam met jou teruggaan. Hulle moet by jou bly, dit is reg.” Maar Ittai het vir die koning gesê: “So seker soos die Here lewe en so seker soos Meneer die koning lewe, ek wil wees op dieselfde plek waar Meneer die koning is, dit maak nie saak of ek sterf en of ek lewe nie.” Toe sê Dawid vir Ittai: “Dan moet jy saamkom.” Ittai van Gat en al sy manne het saamgegaan, en ook al die oumense en kinders wat by hom was.
2 SAMUEL 15:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daarna het Absalom vir hom 'n wa en perde aangeskaf en vyftig man om voor hom uit te loop. Verder het Absalom gereeld vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan; en Absalom het elkeen wat 'n saak gehad het om na die koning te kom vir regspraak, aangeroep en gesê: Uit watter stad is jy? As hy dan antwoord: U dienaar is uit een van die stamme van Israel — dan sê Absalom vir hom: Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie. Verder het Absalom gesê: Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na mý kan kom; dan sal ék aan hom reg laat geskied. En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom. Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het. En ná verloop van vier jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan en my gelofte wat ek aan die HERE gedoen het, in Hebron betaal; want u dienaar het 'n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het, en gesê: As die HERE my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die HERE dien. Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede! En hy het hom klaargemaak en na Hebron gegaan. Verder het Absalom spioene uitgestuur onder al die stamme van Israel om te sê: As julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom is koning in Hebron! En uit Jerusalem het tweehonderd man met Absalom saamgetrek wat genooi was en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet het. Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitófel, die Giloniet, 'n raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit. Toe daar dan 'n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van Israel is agter Absalom aan — het Dawid aan al sy dienaars wat by hom in Jerusalem was, gesê: Maak klaar en laat ons vlug, want daar sal vir ons geen ontkoming wees voor Absalom uit nie! Maak gou om weg te kom, sodat hy ons nie miskien gou inhaal en onheil oor ons bring en die stad met die skerpte van die swaard verslaan nie. En die dienaars van die koning sê vir die koning: Net soos my heer die koning verkies — hier is u dienaars! En die koning het uitgegaan met sy hele huis agter hom aan, maar die koning het tien byvroue agter laat bly om die huis op te pas. En toe die koning met al die mense agter hom aan uitgetrek het, het hulle bly staan by die verste huis, onderwyl al sy dienaars langs hom verbytrek, ook al die Kreti en al die Pleti. Ook al die Gittiete, seshonderd man wat uit Gat agter hom aan gekom het, het voor die koning verbygetrek. En die koning sê vir Íttai, die Gittiet: Waarvoor sou jy ook met ons saamgaan? Draai om en bly by die koning, want jy is 'n uitlander en ook 'n balling uit jou woonplek. Jy het gister gekom, en vandag sou ek jou laat rondswerwe om met ons saam te trek terwyl ek wie weet waarheen gaan! Draai om, en bring jou broers terug. Mag guns en trou met jou wees! Maar Íttai het die koning geantwoord en gesê: So waar as die HERE leef en my heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees! Toe sê Dawid vir Íttai: Gaan, trek dan verby! En Íttai, die Gittiet, het verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.
2 SAMUEL 15:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Absalom vir hom 'n kar en perde aangeskaf. Vyftig man het gewoonlik voor hom uit gehardloop. Hy het soggens vroeg opgestaan en langs die pad by die stadspoort gaan staan. Hy het elkeen wat met sy saak vir 'n beslissing na die koning toe gekom het, na hom toe geroep. “Uit watter stad is jy?” vra hy dan. As die man antwoord: “Ek is 'n Israeliet,” sê Absalom vir hom: “Kyk, jy het 'n sterk, regverdige saak, maar by die koning sal niemand na jou luister nie.” Dan voeg Absalom by: “As ék maar net as regter in hierdie land aangestel word, sou ek 'n regverdige uitspraak lewer vir elkeen wat met 'n geding of saak na my toe kom.” As so iemand nader kom om voor hom te buig, slaan Absalom sy arms om hom en soen hom. So het hy gemaak met al die Israeliete wat vir regspraak na die koning toe gekom het, en op hierdie manier het hy die burgers se harte gesteel. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, in Hebron gaan betaal, want terwyl ek op Gesur in Aram gebly het, het ek beloof: As die Here my veilig na Jerusalem toe laat terugkom, sal ek Hom met 'n offer vereer.” Die koning het geantwoord: “Gaan gerus maar.” Hy het toe klaargemaak en na Hebron toe gegaan. Absalom het ook boodskappers na al die Israelitiese stamme toe gestuur om te sê: “As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron.” Saam met Absalom was daar twee honderd genooides wat te goeder trou uit Jerusalem saamgegaan het. Van die hele sameswering het hulle niks geweet nie. Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop. Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.” Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.” Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.” Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug. Hy en al die inwoners het die stad te voet verlaat. By die laaste huis het hulle gaan staan. Daar het hy al sy amptenare by hom laat verbygaan; so ook sy hele lyfwag en al ses honderd man wat hom uit Gat gevolg het. Terwyl die mense voor die koning verbytrek, vra hy vir Ittai die man uit Gat: “Waarom gaan jý ook saam met ons? Draai om en bly by die nuwe koning. Jy is 'n uitlander en uit jou eie gebied verban. Jy het maar onlangs hier aangekom, en nou maak ek jou dakloos as ek jou saam met ons laat gaan. Ek weet nie waar ek sal beland nie. Draai om en laat jou volksgenote ook omdraai. Dit is immers aan jou dat hulle trou en lojaliteit verskuldig is.” Ittai sê toe vir die koning: “Ek verklaar voor die Here en voor u: Ek bly by u, my koning in lewe en in dood.” Toe sê die koning: “Kom dan maar saam.” Ittai die Gattiet en al die manne by hom is toe saam, en so ook al die afhanklikes wat by hom was.
2 SAMUEL 15:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Ruk later het Absalom vir hom 'n strydwa en perde aangeskaf, en ook vyftig man wat voor hom uit hardloop. Absalom het altyd vroeg opgestaan, en dan het hy langs die pad by die stadspoort gaan staan. As daar enigiemand was wat 'n geskil gehad het waarmee hy na die koning gekom het vir 'n beslissing, het Absalom na hom geroep en vir hom gevra: “Van watter dorp af kom jy?” Wanneer hy dan antwoord: “U dienaar kom uit een van die stamme van Israel,” sê Absalom vir hom: “Kyk, jou eise is goed en eenvoudig, maar iemand wat nie na jou luister nie, dit is wat jy by die koning gaan vind.” Absalom het ook gesê: “Was ek maar aangestel as regter in die land! Dan kon elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na mý toe kom, en ek sou aan hom reg verskaf.” Wanneer iemand dan nader kom om diep voor hom te buig, steek hy sy hand uit, gryp hom vas en soen hom. Absalom het so opgetree teenoor al die Israeliete wat na die koning gekom het vir regspraak. Absalom het sodoende die harte van die manne van Israel gesteel. Ná verloop van vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag gaan en my gelofte wat ek vir die HERE afgelê het, in Hebron nakom, want terwyl ek in Gesur in Aram gewoon het, het u dienaar 'n gelofte afgelê, met dié woorde, ‘As die HERE my inderdaad na Jerusalem laat terugkeer, sal ek die HERE gaan dien.’ ” Die koning het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Hy het toe gereedgemaak en na Hebron gegaan. Maar Absalom het geheime boodskappers in al die stamme van Israel rondgestuur met die opdrag: “Sodra julle die geluid van die •ramshoring hoor, moet julle sê, ‘Absalom het koning geword in Hebron!’ ” Saam met Absalom het tweehonderd man uit Jerusalem vertrek, genooides wat in onskuld saamgegaan en van die hele saak niks geweet het nie. Verder het Absalom, terwyl hy die offers bring, vir Agitofel, die man uit Gilo, 'n raadgewer van Dawid, uit sy tuisdorp Gilo ontbied. Die sameswering het sterk geword, en die mense by Absalom het al hoe meer geword. Daar het 'n nuusdraer by Dawid aangekom en gesê: “Die harte van die manne van Israel is by Absalom.” Dawid sê toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Maak gereed en laat ons vlug, want 'n kans om voor Absalom weg te kom, sal daar nie vir ons wees nie. Haas julle om te vertrek, anders kom hy skielik op ons af, bring onheil oor ons en verslaan die stad met die skerpte van die swaard.” Die koning se amptenare het vir die koning gesê: “Hier is ons, u dienaars, om te voldoen aan alles wat my heer die koning begeer.” Die koning het uit die stad getrek, en sy hele huishouding het in sy spore gevolg; maar die koning het tien byvroue agtergelaat om die paleis op te pas. Toe die koning en al die mense wat in sy spore volg, daar uittrek, het hulle by die laaste huis gaan staan, terwyl al sy onderdane by hom verbygaan, al die Kreti en Pleti. Ook al die manne van Gat, die seshonderd man wat hom uit Gat gevolg het, het voor die koning verbygaan. Die koning sê toe vir Ittai, die man uit Gat: “Waarom gaan jy ook saam met my? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy is 'n buitelander, en boonop 'n balling uit jou woonplek. Jy het maar pas hier aangekom; en sou ek jou vandag laat rondswerf omdat jy saam met ons gaan? Ek moet gaan waar ek kan. Draai om, en laat jou mense omdraai. Mag guns en trou met jou wees.” Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: “So waar as die HERE leef en my heer die koning leef, op die plek waar my heer die koning is, of dit nou vir dood of vir lewe is, daar sal u dienaar beslis ook wees.” Toe sê Dawid vir Ittai: “Gaan voort, trek verby!” Ittai, die man uit Gat, het toe verbygetrek, asook al sy manne en al die afhanklikes wat by hom was.
2 SAMUEL 15:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarna het Absalom vir hom strydwaens en perde gereedgemaak en vyftig man om voor hom uit te hardloop. En Absalom het vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan; en as iemand wat 'n twis gehad het, by die koning kom vir 'n oordeel, het Absalom hom geroep en gesê: Uit watter stad is jy? En hy sê: U dienaar is uit een van die stamme van Israel. En Absalom sê vir hom: Kyk, jou sake is goed en reg; maar daar is niemand wat van die koning aangewys is om na jou te luister nie. Absalom het verder gesê: Ag, as ek regter in die land aangestel is, sodat elkeen wat 'n saak of saak het, na my kan kom, en ek aan hom reg sou doen! En dit was so dat wanneer iemand naby hom kom om hom te eerbiedig, hy sy hand uitgesteek en hom geneem en hom gesoen het. En op hierdie manier het Absalom met die hele Israel gedoen wat na die koning gekom het om te oordeel: so het Absalom die harte van die manne van Israel gesteel. En ná veertig jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan en my gelofte betaal wat ek aan die HERE gedoen het, in Hebron. Want u dienaar het 'n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gebly het, en gesê: As die HERE my werklik na Jerusalem terugbring, dan sal ek die HERE dien. Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede. Toe het hy opgestaan en na Hebron gegaan. Maar Absalom het spioene gestuur onder al die stamme van Israel om te sê: Sodra julle die geluid van die basuin hoor, moet julle sê: Absalom is koning in Hebron. En saam met Absalom het twee honderd man uit Jerusalem uitgetrek wat geroep is; en hulle het in hulle eenvoudigheid gegaan, en hulle het niks geweet nie. En Absalom het Agitofel, die Giloniet, die raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep terwyl hy slagoffers gebring het. En die sameswering was sterk; want die volk het gedurigdeur saam met Absalom vermeerder. En daar het 'n boodskapper na Dawid gekom en gesê: Die harte van die manne van Israel is agter Absalom aan. Toe sê Dawid aan al sy dienaars wat by hom in Jerusalem was: Staan op, en laat ons vlug; want ons sal nie anders van Absalom ontvlug nie; maak gou om weg te gaan, dat hy ons nie skielik inhaal en onheil oor ons bring en die stad met die skerpte van die swaard verslaan nie. Toe sê die dienaars van die koning aan die koning: Kyk, u dienaars is gereed om te doen wat my heer die koning ook al sal bepaal. En die koning het uitgegaan en sy hele huis agter hom aan. En die koning het tien vroue wat byvroue was, agtergelaat om die huis te bewaak. En die koning het uitgegaan en al die mense agter hom aan en op 'n plek gebly wat ver was. En al sy dienaars het langs hom gegaan; en al die Kretiete en al die Peletiete en al die Gittiete, seshonderd man wat uit Gat agter hom aangekom het, het voor die koning deurgetrek. Toe sê die koning vir Ittai, die Gittiet: Waarom gaan jy ook saam met ons? gaan terug na jou plek en bly by die koning, want jy is 'n vreemdeling en ook 'n ballingskap. Aangesien jy gister gekom het, moet ek jou vandag saam met ons op en af laat gaan? aangesien ek gaan waarheen ek kan, keer jy terug en neem jou broers terug; barmhartigheid en waarheid sy met jou! En Ittai het die koning geantwoord en gesê: So waar as die HERE leef en so waar as my heer die koning leef, sekerlik in watter plek my heer die koning sal wees, of dit in dood of lewe is, daar sal ook u dienaar wees. Toe sê Dawid vir Ittai: Gaan trek verby. En Ittai, die Gittiet, het deurgetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.
2 SAMUEL 15:1-22 Die Boodskap (DB)
’n Ruk later het Absalom vir hom ’n kar en perde gekry en 50 manne wat sy lyfwag was. Hy het elke môre vroeg opgestaan en langs die pad gaan wag waar die mense in die stad inkom. Elkeen wat ’n hofsaak gehad het en wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing het daar verbygegaan. Dan het Absalom die man geroep en vir hom gevra waar hy vandaan kom. As hy sê hy kom uit een van die dorpe van die Israeliete, sê Absalom vir hom: “Jong, al het jy ’n goeie saak, is ek bevrees jy sal nie ’n regverdige verhoor by die koning kry nie.” Hy voeg dan sommer by: “As ék darem die hoogste regter was, sou elkeen wat met sy saak na mý toe gekom het ’n regverdige uitspraak gekry het, hoor!” As enigiemand na hom toe gekom het om voor hom te buig, het Absalom sy hand gevat en hom nader getrek en omhels. Hy het met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing, so gemaak. Op dié manier het Absalom die Israeliete se harte gewen. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil baie graag ’n belofte wat ek vir die Here gemaak het, in Hebron gaan nakom. Toe ek nog in Gesur by die Arameërs was, het ek vir die Here belowe dat, as Hy my regtig na Jerusalem toe terugbring, ek vir Hom in Hebron sal gaan offer.” Die koning het gesê: “Gaan maar, en ek hoop alles gaan goed.” Hy het dadelik Hebron toe gegaan. Intussen het hy in die geheim vir al die stamme in Israel se leiers laat weet: “As julle hoor die mense blaas op ramshorings, moet julle skree: ‘Absalom het koning geword in Hebron!’” Daar het 200 mans saam met Absalom van Jerusalem af na Hebron toe gegaan. Hulle was genooi en het ewe onskuldig saamgegaan, want hulle het niks van die hele affêre geweet nie. Absalom het ook vir Agitofel wat in die dorpie Gilo gebly het, na die offerfees laat kom. Agitofel het altyd vir Dawid goeie raad gegee. So het Absalom se geheime plan al hoe gevaarliker geword, want meer en meer mense het by hom aangesluit. Toe Dawid hoor die Israeliete het Absalom se kant gekies, sê hy vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Ons moet maak dat ons wegkom, voor Absalom ons in die hande kry! Julle moet gou maak en padgee, anders keer hy ons hier vas en dan het ons groot moeilikheid. Hy sal die mense in die stad voor die voet doodmaak.” Hulle het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat u sê, U Majesteit. Ons staan by u.” Die koning is te voet uit die stad uit en al sy mense is agter hom aan. Hy het net tien van sy haremvroue in die paleis gelos om die plek op te pas. Toe die koning uit die stad gaan, is al sy eie manskappe ook agterna. By die laaste huis het die koning en sy mense gaan staan. Al die koning se eie soldate en sy hele lyfwag het voor hom verbygegaan. Die 600 man uit Gat wat by hom aangesluit het, het ook voor hom verbygegaan. Hy sê toe vir Ittai, die leier van die manne van Gat: “Hoekom gaan jy ook saam met ons? Gaan terug en bly by die nuwe koning. Jy kom uit ’n ander land en jy kan nie na jou eie plek toe teruggaan nie. Jy is maar ’n kort rukkie by ons en nou moet jy al weer oral rondtrek saam met ons. Ek weet nie eens waar ek heengaan nie. Laat jou mense teruggaan. Ek hoop dit gaan baie goed met jou.” Maar Ittai sê vir die koning: “Ek bly by u, my koning, so waar as die Here leef, en so waar as u leef. Waar u is, of dit nou in die lewe of in die dood is, sal ek ook wees.” “Goed,” sê Dawid, “bly dan maar by ons.” Ittai, die man uit Gat, en al sy manskappe met hulle vroue en kinders het toe by Dawid-hulle gebly.
2 SAMUEL 15:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kort hierna het Absalom vir hom ’n koets en perde aangeskaf. 50 man het voor hom uit gehardloop. Hy het elke oggend vroeg opgestaan en by die ingang na die stad gaan stelling inneem. Wanneer mense na die koning toe daar verbykom om uitspraak oor ’n saak te kry, het Absalom hulle gevra: “Van watter stad kom jy?” As hy sê dat hy uit een van die stamme van Israel kom, sê Absalom: “Jy het ’n sterk en regverdige saak, maar daar is niemand om namens die koning na jou te luister nie.” Dan voeg hy by: “As ek maar as regter in die land aangestel was, kon elkeen met ’n regsgeding of ’n klagte na my toe kom en ek sou regverdige uitsprake lewer!” Wanneer iemand dan voor hom wil buig, het hy sy hand gevat, hom omhels en hom gesoen. So het Absalom gemaak met elkeen wat vir regspraak na die koning toe gekom het. Op hierdie manier het hy die toegeneentheid van almal in Israel gewen. Na vier jaar sê Absalom vir die koning: “Laat my toe om na Hebron toe te gaan om daar my gelofte vir die HERE te gaan betaal. Terwyl ek in Gesur was, het ek belowe dat ek die HERE sal aanbid as Hy my na Jerusalem toe terugbring.” “Gaan gerus maar,” antwoord die koning hom. Absalom het toe na Hebron toe gegaan. Terwyl hy daar was, stuur hy boodskappers na al die stamme van Israel en sê: “Sodra julle die trompette hoor, moet julle sê: ‘Absalom is in Hebron tot koning gekroon.’” Hy het 200 gaste uit Jerusalem saamgeneem. Hulle het niks geweet van die hele plan nie. Hy het ook vir Agitofel, een van Dawid se raadgewers wat in Gilo gewoon het, laat haal waar hy besig was om te offer. Kort voor lank het al hoe meer mense hulle by Absalom aangesluit sodat die sameswering al groter afmetings aangeneem het. Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!” “Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.” “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle. Die koning en sy huishouding het toe dadelik te voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg. Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan. Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat. Terwyl hulle voor die koning verbytrek, vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap. Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die HERE se goedheid en trou met jou wees.” Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die HERE leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.” Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” Ittai en sy 600 manne en hulle families het toe saamgegaan.