2 Samuel 15:1-22

2 Samuel 15:1-22 AFR20

'n Ruk later het Absalom vir hom 'n strydwa en perde aangeskaf, en ook vyftig man wat voor hom uit hardloop. Absalom het altyd vroeg opgestaan, en dan het hy langs die pad by die stadspoort gaan staan. As daar enigiemand was wat 'n geskil gehad het waarmee hy na die koning gekom het vir 'n beslissing, het Absalom na hom geroep en vir hom gevra: “Van watter dorp af kom jy?” Wanneer hy dan antwoord: “U dienaar kom uit een van die stamme van Israel,” sê Absalom vir hom: “Kyk, jou eise is goed en eenvoudig, maar iemand wat nie na jou luister nie, dit is wat jy by die koning gaan vind.” Absalom het ook gesê: “Was ek maar aangestel as regter in die land! Dan kon elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na mý toe kom, en ek sou aan hom reg verskaf.” Wanneer iemand dan nader kom om diep voor hom te buig, steek hy sy hand uit, gryp hom vas en soen hom. Absalom het so opgetree teenoor al die Israeliete wat na die koning gekom het vir regspraak. Absalom het sodoende die harte van die manne van Israel gesteel. Ná verloop van vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag gaan en my gelofte wat ek vir die HERE afgelê het, in Hebron nakom, want terwyl ek in Gesur in Aram gewoon het, het u dienaar 'n gelofte afgelê, met dié woorde, ‘As die HERE my inderdaad na Jerusalem laat terugkeer, sal ek die HERE gaan dien.’ ” Die koning het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Hy het toe gereedgemaak en na Hebron gegaan. Maar Absalom het geheime boodskappers in al die stamme van Israel rondgestuur met die opdrag: “Sodra julle die geluid van die •ramshoring hoor, moet julle sê, ‘Absalom het koning geword in Hebron!’ ” Saam met Absalom het tweehonderd man uit Jerusalem vertrek, genooides wat in onskuld saamgegaan en van die hele saak niks geweet het nie. Verder het Absalom, terwyl hy die offers bring, vir Agitofel, die man uit Gilo, 'n raadgewer van Dawid, uit sy tuisdorp Gilo ontbied. Die sameswering het sterk geword, en die mense by Absalom het al hoe meer geword. Daar het 'n nuusdraer by Dawid aangekom en gesê: “Die harte van die manne van Israel is by Absalom.” Dawid sê toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Maak gereed en laat ons vlug, want 'n kans om voor Absalom weg te kom, sal daar nie vir ons wees nie. Haas julle om te vertrek, anders kom hy skielik op ons af, bring onheil oor ons en verslaan die stad met die skerpte van die swaard.” Die koning se amptenare het vir die koning gesê: “Hier is ons, u dienaars, om te voldoen aan alles wat my heer die koning begeer.” Die koning het uit die stad getrek, en sy hele huishouding het in sy spore gevolg; maar die koning het tien byvroue agtergelaat om die paleis op te pas. Toe die koning en al die mense wat in sy spore volg, daar uittrek, het hulle by die laaste huis gaan staan, terwyl al sy onderdane by hom verbygaan, al die Kreti en Pleti. Ook al die manne van Gat, die seshonderd man wat hom uit Gat gevolg het, het voor die koning verbygaan. Die koning sê toe vir Ittai, die man uit Gat: “Waarom gaan jy ook saam met my? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy is 'n buitelander, en boonop 'n balling uit jou woonplek. Jy het maar pas hier aangekom; en sou ek jou vandag laat rondswerf omdat jy saam met ons gaan? Ek moet gaan waar ek kan. Draai om, en laat jou mense omdraai. Mag guns en trou met jou wees.” Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: “So waar as die HERE leef en my heer die koning leef, op die plek waar my heer die koning is, of dit nou vir dood of vir lewe is, daar sal u dienaar beslis ook wees.” Toe sê Dawid vir Ittai: “Gaan voort, trek verby!” Ittai, die man uit Gat, het toe verbygetrek, asook al sy manne en al die afhanklikes wat by hom was.