2 Konings 17:14-23

2 Konings 17:14-23 DB

Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was net so hardkoppig soos hulle voorouers en het ook nie in die Here hulle God geglo nie. Hulle het: die Here se reëls verwerp; sy ooreenkoms met hulle voorouers verwerp; sy waarskuwings in die wind geslaan; nikswerd gode vereer en net so dwaas geword soos hulle; opgetree soos die volke rondom hulle, al het die Here hulle verbied om dit te doen. Hulle het al die wette van die Here, hulle God, oortree deur: twee kalwerbeelde te laat maak; ’n afbeelding van die godin Asjera te laat maak; voor die hemelgode neer te buig; die god Baäl te vereer; hulle seuns en dogters in die vuur te offer; waarsêery te beoefen; die toekoms te voorspel. Só het hulle hulleself aan die boosheid oorgegee en die Here al hoe kwater vir hulle gemaak. In sy woede het die Here besluit om Israel te vernietig. Al wat oorgebly het, was die stam van Juda. Maar selfs Juda het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Hulle het dieselfde dinge as Israel gedoen. Die Here het toe Israel se hele nageslag verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan hulle vyande totdat dié hulle vernietig het. Toe die Here destyds vir Israel van die koninkryk van Dawid laat wegbreek het, het hulle Jerobeam, die seun van Nebat, koning gemaak. Hy het die Israeliete van die Here af weggelei en hulle afgode laat dien. Hulle het net nooit opgehou om soos Jerobeam die afgode te dien nie, totdat die Here besluit het om hulle te verwerp. Dít is waaroor die profete, sy dienaars, Israel altyd gewaarsku het. Israel is toe weggeneem na die Assiriërs se land toe en dit is waar hulle vandag nog is.