2 KONINGS 17:14-23
2 KONINGS 17:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar hulle wou nie luister nie; hulle was net so hardkoppig soos hulle voorvaders wat ook nie op die Here hulle God vertrou het nie. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond verwerp wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Sy waarskuwings het hulle in die wind geslaan, hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Hulle het geleef net soos die heidennasies om hulle, iets wat die Here hulle beveel het om nie te doen nie. Al die gebooie van die Here hulle God het hulle links laat lê: hulle het twee kalwerbeelde laat giet, 'n Asjerabeeld gemaak, voor elke hemelliggaam gebuig en vir Baäl gedien. Die volk het hulle seuns en dogters as offers laat verbrand en hulleself besig gehou met waarsêery en toekomsvoorspelling. Met volkome oorgawe het hulle gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart. Die Here het so toornig op Israel geword dat Hy hulle verwerp het. Net die stam Juda het oorgebly. Maar ook Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie: hulle het die praktyke van Israel nagevolg. Daarom het die Here die hele nageslag van die aartsvader Israel verwerp. Die Here het hulle verdruk deur hulle oor te gee in die mag van plunderaars totdat Hy hulle finaal verwerp het. Hy het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, sodat hulle Jerobeam seun van Nebat koning gemaak het. Jerobeam het Israel van die Here losgemaak en hulle tot vreeslike sondes verlei. Die Israeliete het volhard in al die sondes wat Jerobeam gedoen het; hulle het dit nie laat vaar nie. Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy hulle deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het. Hy het Israel uit sy land na Assirië toe laat wegvoer, waar hulle vandag nog is.
2 KONINGS 17:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die HERE gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!” Hulle het al die gebooie van die HERE hulle God geïgnoreer en vir hulle twee kalwerbeelde gegiet. Hulle het ook ’n Asjerabeeld gemaak, voor die hemelliggame gebuig en vir Baäl gedien. Hulle het hulle eie seuns en dogters as offers laat verbrand en waarsêers en toekomsvoorspellers geraadpleeg. Hulle het hulleself oorgegee aan dinge wat vir die HERE verkeerd is, en Hom so uitgetart. Die HERE was so ontevrede met Israel dat Hy hulle van Hom verstoot het. Net die stam Juda het oorgebly. Maar ook Juda het geweier om die gebooie van die HERE hulle God te gehoorsaam. Hulle het volgens die voorbeeld van Israel gelewe. Die HERE het toe die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan die plunderaars totdat Hy Israel van Hom af verwyder het. Want toe Hy Israel van die koninkryk van Dawid afgeskeur het, het hulle Jerobeam seun van Nebat koning oor hulle gemaak. Maar Jerobeam het Israel weggelok van die HERE af en hulle baie laat sondig. Die Israeliete het volgehou met al die sondes van Jerobeam en dit nie gestaak nie. Uiteindelik het die HERE hulle finaal verwyder, net soos Hy deur al sy dienaars die profete gewaarsku het. Israel is uit hulle land weggevoer na Assirië toe, waar hulle vandag nog is.
2 KONINGS 17:14-23 Bybel vir almal (ABA)
Maar die mense van Israel wou nie luister nie, hulle was hardkoppig soos hulle voorvaders. Hulle voorvaders het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy sê nie. Hulle was ongehoorsaam aan sy wette en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Hulle het nie geluister toe Hy hulle gewaarsku het nie. Hulle het gode gedien wat vir hulle niks kon doen nie, en hulle, die mense van Israel, het self geword soos daardie gode. Die Here het gesê hulle moenie soos die ander volke doen nie, maar hulle het gedoen soos die ander volke. Hulle was ongehoorsaam aan al die wette van hulle God die Here. Hulle het twee kalfbeelde gemaak en hulle het 'n gewyde paal ingeplant. Hulle het gebuig voor die son en die maan en al die sterre, en hulle het vir Baäl gedien. Hulle het hulle kinders verbrand. Hulle het gedink dat hulle dinge weet wat ander mense nie kan weet nie en dat hulle na tekens kan kyk en kan sê wat sal gebeur. Hulle het dit geniet om slegte dinge te doen waarvan die Here nie hou nie, dinge wat Hom kwaad maak. Die Here het baie kwaad geword vir die mense van Israel en Hy het hulle weggegooi. Net die Juda-stam het oorgebly. Maar die mense van Juda was ook ongehoorsaam aan die wette van die Here, hulle het gelewe soos die mense van Israel. Die Here het gesê die hele nageslag van Israel behoort nie meer aan Hom nie. Die Here het hulle laat swaarkry en Hy het mense in die land laat kom wat hulle goed kom vat het. En toe het die Here hulle heeltemal weggegooi. Ja, die Here het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, en die mense van Israel het vir Jerobeam seun van Nebat koning gemaak. Jerobeam het die mense van Israel laat ophou om gehoorsaam te wees aan die Here, hy het hulle 'n groot sonde laat doen. Die mense van Israel het al die sondes gedoen wat Jerobeam gedoen het. Hulle het aangehou om dit te doen, totdat die Here die mense van Israel weggegooi het. Die Here het hulle voorheen gewaarsku dat Hy dit sal doen toe Hy al sy dienaars die profete na hulle toe gestuur het. Die vyande het die mense van Israel gevang en weggevat uit hulle land, en die mense van Israel is vandag nog in Assirië.
2 KONINGS 17:14-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar hulle het nie geluister nie en hul nek verhard soos die nek van hul vaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie. En hulle het sy insettinge en sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het, en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword, en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie. En hulle het al die gebooie van die HERE hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde, twee kalwers, gemaak, ja, 'n heilige boomstam gemaak en gebuig voor die hele leër van die hemel en Baäl gedien. En hulle het hul seuns en hul dogters deur die vuur laat deurgaan en met waarsêery omgegaan en voortekens verklaar en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg. So het die HERE dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het; niks het oorgebly nie as net die stam van Juda alleen. Selfs Juda het die gebooie van die HERE hulle God nie gehou nie, maar gewandel in die insettinge van Israel wat hulle gemaak het. Daarom het die HERE die hele geslag van Israel verwerp en hulle verneder en hulle in die hand van rowers oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het. Want Hy het Israel van die huis van Dawid afgeskeur, en hulle het Jeróbeam, die seun van Nebat, koning gemaak; en Jeróbeam het Israel agter die HERE weggetrek en hulle 'n groot sonde laat doen. En die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie; totdat die HERE Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië, tot vandag toe.
2 KONINGS 17:14-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was so hardnekkig soos hulle voorouers, wat hulle vertroue nie gestel het in die HERE hulle God nie. Hulle het sy vaste voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorouers gesluit het, verwerp, ja, sy bepalings waardeur Hy hulle gewaarsku het. Hulle het agter nuttelose afgode aangeloop en self nutteloos geword. Hulle het die nasies wat rondom hulle was, gevolg – nasies oor wie die HERE hulle opdrag gegee het om nie soos hulle te maak nie. Hulle het al die gebooie van die HERE hulle God verontagsaam en vir hulle gegote beelde gemaak – daardie twee kalwers! Hulle het 'n asjera gemaak. Hulle het voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en Baäl gedien. Hulle het hulle seuns en hulle dogters in die vuur geoffer, voorspellings gemaak en wiggelary beoefen. Hulle het hulle daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, en Hom so uitgetart. Die HERE het baie toornig geword op Israel en hulle uit sy teenwoordigheid verwyder. Niemand het oorgebly nie – slegs die stam van Juda. Ook Juda het nie die gebooie van die HERE hulle God nagekom nie, maar het die gebruike van Israel, dit wat hulle gedoen het, gevolg. Die HERE het die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle verneder en in die hand van plunderaars oorgegee, totdat Hy hulle uit sy teenwoordigheid uitgeban het. Want Hy het Israel van die huis van Dawid afgeskeur, en hulle het Jerobeam, seun van Nebat, koning gemaak. Jerobeam het Israel van die HERE af weggedryf en hulle groot sonde laat doen. Die Israeliete het al die sondes wat Jerobeam gedoen het, nagevolg. Hulle het nie daarvan afgewyk nie, totdat die HERE Israel uit sy teenwoordigheid verwyder het, soos wat Hy by monde van al sy diensknegte, die profete, gespreek het. Israel is van sy grond af weggevoer na Assirië; dit is vandag nog so.
2 KONINGS 17:14-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar hulle het nie geluister nie, maar hulle nek verhard soos die nek van hulle vaders wat nie in die HERE hulle God geglo het nie. En hulle het sy insettinge en sy verbond wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse wat Hy teen hulle getuig het, verwerp; en hulle het die nietigheid gevolg en ydel geword en agter die nasies aan gegaan wat rondom hulle was, aangaande wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te doen nie. En hulle het al die gebooie van die HERE hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde gemaak, twee kalwers, en 'n bos gemaak en die hele leër van die hemel aanbid en Baäl gedien. En hulle het hulle seuns en hulle dogters deur die vuur laat gaan en waarsêery en towerye gebruik en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, om Hom tot toorn te terg. Daarom was die HERE baie toornig op Israel en het hulle van sy aangesig verwyder; daar het niemand oorgebly nie, behalwe die stam van Juda alleen. Ook Juda het die gebooie van die HERE hulle God nie gehou nie, maar gewandel in die insettinge van Israel wat hulle gemaak het. En die HERE het die hele geslag van Israel verwerp en hulle verdruk en hulle in die hand van verwoesters oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het. Want hy het Israel van die huis van Dawid geskeur; en hulle het Jeróbeam, die seun van Nebat, koning gemaak, en Jeróbeam het Israel agter die HERE weggedryf en hulle 'n groot sonde laat doen. Want die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het; hulle het nie van hulle gewyk nie; Totdat die HERE Israel van sy aangesig verwyder het, soos Hy deur al sy dienaars, die profete, gesê het. So is Israel dan uit hulle land weggevoer na Assirië tot vandag toe.
2 KONINGS 17:14-23 Die Boodskap (DB)
Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was net so hardkoppig soos hulle voorouers en het ook nie in die Here hulle God geglo nie. Hulle het: die Here se reëls verwerp; sy ooreenkoms met hulle voorouers verwerp; sy waarskuwings in die wind geslaan; nikswerd gode vereer en net so dwaas geword soos hulle; opgetree soos die volke rondom hulle, al het die Here hulle verbied om dit te doen. Hulle het al die wette van die Here, hulle God, oortree deur: twee kalwerbeelde te laat maak; ’n afbeelding van die godin Asjera te laat maak; voor die hemelgode neer te buig; die god Baäl te vereer; hulle seuns en dogters in die vuur te offer; waarsêery te beoefen; die toekoms te voorspel. Só het hulle hulleself aan die boosheid oorgegee en die Here al hoe kwater vir hulle gemaak. In sy woede het die Here besluit om Israel te vernietig. Al wat oorgebly het, was die stam van Juda. Maar selfs Juda het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Hulle het dieselfde dinge as Israel gedoen. Die Here het toe Israel se hele nageslag verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan hulle vyande totdat dié hulle vernietig het. Toe die Here destyds vir Israel van die koninkryk van Dawid laat wegbreek het, het hulle Jerobeam, die seun van Nebat, koning gemaak. Hy het die Israeliete van die Here af weggelei en hulle afgode laat dien. Hulle het net nooit opgehou om soos Jerobeam die afgode te dien nie, totdat die Here besluit het om hulle te verwerp. Dít is waaroor die profete, sy dienaars, Israel altyd gewaarsku het. Israel is toe weggeneem na die Assiriërs se land toe en dit is waar hulle vandag nog is.