Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die HERE gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!” Hulle het al die gebooie van die HERE hulle God geïgnoreer en vir hulle twee kalwerbeelde gegiet. Hulle het ook ’n Asjerabeeld gemaak, voor die hemelliggame gebuig en vir Baäl gedien. Hulle het hulle eie seuns en dogters as offers laat verbrand en waarsêers en toekomsvoorspellers geraadpleeg. Hulle het hulleself oorgegee aan dinge wat vir die HERE verkeerd is, en Hom so uitgetart. Die HERE was so ontevrede met Israel dat Hy hulle van Hom verstoot het. Net die stam Juda het oorgebly. Maar ook Juda het geweier om die gebooie van die HERE hulle God te gehoorsaam. Hulle het volgens die voorbeeld van Israel gelewe. Die HERE het toe die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan die plunderaars totdat Hy Israel van Hom af verwyder het. Want toe Hy Israel van die koninkryk van Dawid afgeskeur het, het hulle Jerobeam seun van Nebat koning oor hulle gemaak. Maar Jerobeam het Israel weggelok van die HERE af en hulle baie laat sondig. Die Israeliete het volgehou met al die sondes van Jerobeam en dit nie gestaak nie. Uiteindelik het die HERE hulle finaal verwyder, net soos Hy deur al sy dienaars die profete gewaarsku het. Israel is uit hulle land weggevoer na Assirië toe, waar hulle vandag nog is.
Lees 2 KONINGS 17
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 KONINGS 17:14-23
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's