2 Korintiërs 5:1-10

2 Korintiërs 5:1-10 DB

Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. Wanneer ons dit die dag van God ontvang, sal ons glad nie nakend of hulpeloos wees nie. Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan. God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou. Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie. Maar ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie. Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly. Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld. Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg.

Video vir 2 Korintiërs 5:1-10

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Korintiërs 5:1-10