2 KORINTIËRS 5:1-10

2 KORINTIËRS 5:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Ons liggame is soos 'n tent waarin 'n mens woon. Ons weet, wanneer God hierdie tent van ons afbreek, die tent wat op die aarde is, dan het ons 'n gebou van God in die hemel. Dit is nie mense wat dit gebou het nie, en dit is vir altyd. Terwyl ons in hierdie tent van ons woon, kla en sug ons. Ons verlang om ons hemelse gebou bo-oor ons tent te sit. Wanneer ons weggegaan het uit hierdie tent op die aarde, dan wil ons nie niks hê nie. Ja, ons wat nog in die aardse tent woon, sug. Ons kry swaar, want ons is bang om weg te gaan uit die aardse tent. Ons wil die hemelse gebou bo-oor die tent sit sodat ons hemelse lewe dadelik sal kom in die plek van ons aardse lewe. Dit is God wat ons gereedgemaak het om dadelik te verander. Hy het sy Gees vir ons gegee, en so weet ons dat God vir ons alles sal gee wat Hy vir ons belowe het. Maar ons glo en vertrou altyd. Ons weet dat ons nog nie by die Here woon terwyl ons in ons liggame woon nie. Ons moet glo terwyl ons hier op die aarde lewe. Ons sien nog nie alles soos dit sal wees nie. Maar ons glo en vertrou en ons verlang daarna om nie meer in ons liggame te woon nie, ons verlang om by die Here te woon. Daarom probeer ons om só te lewe dat die Here tevrede sal wees met ons terwyl ons in ons liggame woon en ook wanneer ons nie meer in ons liggame woon nie. Want Christus sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dan sal elke persoon kry wat hy moet kry. As iemand goeie dinge gedoen het terwyl hy hier op die aarde gelewe het, dan sal hy goeie dinge kry. As iemand slegte dinge gedoen het, dan sal hy slegte dinge kry.

2 KORINTIËRS 5:1-10 Die Boodskap (DB)

Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. Wanneer ons dit die dag van God ontvang, sal ons glad nie nakend of hulpeloos wees nie. Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan. God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou. Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie. Maar ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie. Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly. Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld. Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg.