Daar was ’n man in Maon wat ook ’n plek by Karmel gehad het. Dié man was skatryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape in Karmel te skeer. Die man se naam was Nabal. Hy was van die Kalebstam. Sy vrou se naam was Abigajil. Sy was ’n mooi en slim vrou, maar hy was ’n hardkoppige en gemene vent.
Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer. Hy stuur toe tien jong manne en sê vir hulle: “Gaan na Nabal toe in Karmel en sê vir hom ek stuur groete. Sê vir hom ek wens hom alle voorspoed toe: vir hom, vir sy familie en vir sy boerdery. Sê vir hom ek het gehoor dis skeertyd. As hy vir sy werkers vra, sal hulle hom vertel dat ons sy skaapwagters altyd goed behandel het as hulle in ons omgewing was. In al die tyd wat hulle by Karmel was, het daar nooit ’n skaap weggeraak nie. Daarom verwag ek dat hy julle vriendelik sal ontvang. Dis buitendien ’n feestyd. Sê vir hom ek vra beleef dat hy vir my en vir julle sal gee wat hy kan.”
Die jong manne het gegaan en namens Dawid alles presies net so vir Nabal gesê en vir sy antwoord gewag.
Nabal sê toe vir Dawid se mense: “Wie is dié Dawid? En wie is dié seun van Isai miskien? Vaderland, daar is deesdae ook so baie slawe wat van hulle base af wegloop! Dink julle nou regtig ek sal my brood en water en die skape wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir mense gee wat ek van g’n kant af ken nie?”
Die manne van Dawid het net daar omgedraai en teruggegaan. Toe hulle by Dawid kom, het hulle hom alles vertel. “Kry julle swaarde, manne,” het Dawid gesê. Elkeen het sy swaard in sy lyfband gesteek; Dawid ook. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om die goed op te pas.
Een van die jong skaapwagters het vir Nabal se vrou, Abigajil, gaan vertel wat gebeur het: “Dawid het uit die woestyn manne gestuur om vir Meneer voorspoed toe te wens, maar hy het hulle afgejak. En dié mense was baie goed vir ons: toe ons in die oop veld was, het niemand ons ooit lastig geval as ons naby hulle was nie. Daar is ook nooit ’n skaap gesteel nie. Solank ons met die skape naby hulle gewei het, was hulle dag en nag soos ’n muur om ons. U moet nou asseblief maar kyk wat u kan doen, want Meneer en sy hele familie gaan groot teëspoed kry. En hy is so ’n nare mens dat niemand met hom daaroor kan praat nie.”
Abigajil het gou 200 brode, twee groot erdekruike vol wyn, vyf gaar skape, vyf bakke vol gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies laat laai. Sy het vir haar helpers gesê: “Gaan solank, ek kom agterna.” Maar sy het niks vir haar man gesê nie.
Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom. Dawid het juis geloop en dink: “Ek het met ander woorde die vent se goed verniet opgepas in die woestyn. Hy het nie ’n enkele skaap verloor nie, en nou kry ek stank vir dank. God weet, nie een van die mans of seuns by hom sal môre die son sien opkom nie!”
Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie afgeklim en by Dawid se voete met haar gesig teen die grond gebuig. Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister? U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie. So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan. Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. Gee dit gerus vir die jong manne wat altyd by u is. En vergewe asseblief die fout wat ek gemaak het. Die Here sal vir seker vir u ’n koningskap gee wat lank sal hou, want u moet die Here se oorloë veg. ’n Ramp sal u nooit tref nie