1 SAMUEL 25:2-28

1 SAMUEL 25:2-28 NLV

Daar was ’n ryk man in Maon wat ’n plaas in Karmel gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was besig om in Karmel te skeer. Die man se naam was Nabal en sy vrou s’n Abigajil. Sy was ’n verstandige en mooi vrou. Maar Nabal, ’n Kalebiet, was rof en onbeskof in alles wat hy gedoen het. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer, stuur hy tien van sy jong manne na Karmel toe met die volgende boodskap: “Gaan na Karmel toe en wanneer julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. Sê dan vir hom: ‘Mag jy lank in vrede lewe! Voorspoed ook vir jou familie en alles wat aan jou behoort! Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie. Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’” Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag. “Wie is dié man Dawid nogal?” antwoord hy minagtend. “Wie dink hierdie seun van Isai is hy? Daar is deesdae baie slawe wat van hulle meesters af wegloop. Moet ek my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit net so gee vir mense wat van wie weet waar af kom?” Dawid se boodskappers het omgedraai en teruggegaan. Hulle het vir Dawid alles vertel wat Nabal gesê het. “Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas. Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig. Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie. Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape. Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!” Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie. Terwyl sy op ’n donkie ’n bergkloof afgaan, sien sy vir Dawid en sy manskappe wat in haar rigting aankom. Dawid het so pas gedink: “Dis verniet dat ons hierdie vent se kuddes in die woestyn beskerm het sodat niks van sy besittings weggeraak het of gesteel is nie. Maar hy het my goedheid met kwaad vergeld. Mag God met my afreken indien selfs net een manlike lid van sy huishouding teen môre-oggend nog lewe!” Toe Abigajil vir Dawid sien, klim sy vinnig van die donkie af. Sy buig laag voor hom. Sy val toe by sy voete neer en sê: “Verskoon my tog asseblief, Meneer. Luister tog na wat ek vertroulik vir u wil sê. Nabal is ’n niksnut. Asseblief, moenie u aan hom steur nie. Hy is soos sy naam lui ’n dwaas. Ek het ongelukkig nooit eens u boodskappers te sien gekry nie. “Maar nou, my heer, so seker as wat die HERE leef en u leef, aangesien die HERE u weerhou het van bloedvergieting en om self wraak te neem, mag al u vyande word soos Nabal, elkeen wat kwaad teen u beplan. “Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is. Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die HERE sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die HERE se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.