1 SAMUEL 25:2-28
1 SAMUEL 25:2-28 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man in die stad Maon. Hy was baie ryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke by die stad Karmel gehad. Hy was besig om sy skape en bokke se wol af te skeer by Karmel. Die man se naam was Nabal, en sy vrou was Abigajil. Sy was 'n verstandige en 'n mooi vrou, maar hy was 'n hardkoppige en 'n slegte man. Hy was van die Kaleb-stam. Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape en bokke te skeer. Dawid het tien jongmanne gestuur en hy het vir hulle gesê: “Julle moet na Karmel gaan en wanneer julle by Nabal kom, dan moet julle sê ek het julle gestuur om te hoor hoe dit met hom gaan. Julle moet vir hom sê ek sê: ‘Ek bid dat jy gesond sal bly en dat dit goed sal gaan met jou, en ook met jou huisgesin en met alles wat jy het. En nou, ek het gehoor dat jy besig is om skape te skeer. Die wagters wat jou diere opgepas het, was by ons, en ons het hulle nie gepla nie. Niks het weggeraak in daardie tyd toe hulle by Karmel was nie. Jy kan jou manne vra, hulle sal vir jou sê dit is waar. Jy moet asseblief vriendelik wees met my manne, want vandag is 'n feesdag. Gee asseblief vir hulle en vir my, Dawid, ook van die kos wat jy het.’ ” Dawid se manne het vir Nabal alles gaan sê wat Dawid vir hulle gesê het en hulle het gewag. Nabal het geantwoord en hy het vir die manne van Dawid gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Isai? Daar is vandag baie slawe wat wegloop van hulle eienaars. Ek het my brood en my water en my vleis gereedgemaak vir die mense wat my skape skeer. Moet ek dit nou neem en vir julle gee? Ek weet nie van waar julle kom nie.” Dawid se manne het toe omgedraai en teruggekom en hulle het vir Dawid kom sê wat Nabal alles gesê het. Toe sê Dawid vir sy manne: “Maak vas julle swaarde.” Almal het hulle swaarde vasgemaak, en Dawid het dit ook gedoen. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan, en 200 manne het by die goed gebly. Maar een van Nabal se manne het vir Abigajil gaan sê: “Weet jy dat Dawid boodskappers uit die woestyn gestuur het om ons meneer te groet? Ons meneer het hulle toe beledig. Maar Dawid se manne was baie goed vir ons. Daardie tyd toe ons rondgetrek het en toe hulle saam met ons in die veld was, het niks weggeraak nie. Hulle het ons in die dag en in die nag beskerm toe ons saam met hulle was en die skape opgepas het. En nou, jy moet dit weet en jy moet dink wat jy kan doen, want dit sal sleg gaan met ons meneer en met almal in sy huisgesin. Hy is 'n slegte man, dit help nie om met hom te praat nie.” Abigajil het toe gou gemaak. Sy het 200 brode geneem en twee velsakke wyn en vyf skape wat hulle klaar geslag het en vyf sea gebraaide koring en 100 koeke rosyne en 200 koeke gedroogde vye. Sy het dit op donkies gelaai en sy het vir haar slawe gesê: “Julle moet voor my gaan, ek sal later kom.” Sy het niks vir haar man Nabal gesê nie. Sy het op 'n donkie gery en teen die ander kant van die berg afgegaan en daar kry sy toe vir Dawid en sy manne wat na haar toe aankom. Dawid het gedink: Ek het alles in die woestyn opgepas wat aan hierdie man behoort, maar dit het my niks gehelp nie. Daar het niks van hom weggeraak nie. Ek was goed vir hom, maar hy het slegte dinge gedoen aan my. Ek sal hom doodmaak. God moet my straf, Hy moet aanhou om my te straf as ek een man of seun van Nabal lewendig laat oorbly. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy van die donkie afgeklim en laag voor Dawid gebuig, haar gesig was teen die grond. Sy het by Dawid se voete gaan lê en gesê: “Meneer, dit is my skuld. Ek wil asseblief met jou praat, jy moet luister na my. Meneer, jy moet asseblief nie dink aan wat hierdie slegte man Nabal gesê het nie, want hy is soos sy naam sê. Sy naam is Nabal en hy is 'n dwaas. Ek het nie Meneer se manne gesien wat jy gestuur het nie. Maar nou, Meneer, so seker soos die Here lewe en so seker soos jy lewe, dit is die Here wat keer sodat jy nie onskuldige mense doodmaak wanneer jy jou vyande wil straf nie. Ek bid dat dit met jou vyande sal gaan soos met Nabal. Ek bid dat dit ook so sal gaan met almal wat wil hê dat dit sleg moet gaan met Meneer. En nou, ek het hierdie presente vir Meneer gebring sodat jy dit kan gee vir die manne wat jou volg. Vergewe my asseblief as ek iets verkeerd gedoen het. Die Here sal jou en jou familie altyd beskerm, want Meneer veg die oorloë van die Here. Jy moet niks doen wat verkeerd is nie, so lank soos jy lewe.
1 SAMUEL 25:2-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar was 'n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, en die man was baie vermoënd: hy het drieduisend skape en duisend bokke gehad, en hy was besig om sy skape te skeer in Karmel. En die naam van die man was Nabal, en die naam van sy vrou Abígail; en die vrou het 'n goeie verstand gehad en was mooi van aansien; maar die man was grof en boosaardig, en hy was 'n Kalebiet. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer, stuur Dawid tien jongmanne, en Dawid sê aan die jongmanne: Trek op na Karmel en gaan by Nabal in en vra hom in my naam na die welstand; en so moet julle aan die welvarende sê: Mag dit goed gaan met u sowel as met u huis, en goed gaan met alles wat u besit. En nou, ek het gehoor dat u skeerders het; nou ja, u wagters was met ons saam; ons het hulle nie beledig nie, en hulle het ook niks vermis al die dae wat hulle in Karmel was nie. Vra u dienaars, en hulle sal u dit te kenne gee; laat dus die jongmanne guns vind in u oë, want ons het op 'n vrolike dag gekom; gee tog wat u byderhand het aan u dienaars en aan u seun Dawid. Toe het die jongmanne van Dawid gekom en met Nabal in naam van Dawid volgens al hierdie woorde gespreek en verder afgewag. Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: Wie is Dawid? En wie is die seun van Ísai? Daar is vandag baie dienaars wat hulle losskeur, elkeen van sy heer af. Sou ek dan my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie? Daarop het die jongmanne van Dawid omgedraai op hulle pad, hulle het teruggekeer en aangekom en hom berig gebring volgens al hierdie woorde. Toe sê Dawid aan sy manne: Gord julle elkeen sy swaard aan! Hulle gord toe elkeen sy swaard aan — Dawid het ook sy swaard aangegord — en hulle trek agter Dawid op, omtrent vierhonderd man, terwyl tweehonderd by die pakgoed bly. Maar aan Abígail, die vrou van Nabal, het een van die jongmanne berig gebring en gesê: Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te begroet, maar hy het teen hulle uitgevaar. Tog was die manne vir ons baie goed; ook is ons nie beledig nie, en ons het niks vermis al die dae wat ons saam met hulle rondgetrek het toe ons in die veld was nie. Hulle was 'n muur om ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het. En nou moet u self ondersoek en kyk wat u moet doen; want die onheil is vas besluit oor ons heer en oor sy hele huis; maar hy self is so 'n deugniet dat jy nie met hom kan praat nie. Toe het Abígail gou tweehonderd brode geneem en twee sakke wyn en vyf toebereide skape en vyf mate gebraaide koring en honderd rosynekoeke en tweehonderd vyekoeke en dit op esels gesit. En sy het aan haar jongmanne gesê: Trek voor my uit; kyk, ek kom dadelik agter julle aan. Maar aan haar man Nabal het sy niks te kenne gegee nie. En terwyl sy op die esel ry en in 'n kloof van die berg afdaal, kom Dawid en sy manne meteens af haar tegemoet, sodat sy hulle teëgekom het. Dawid het al gedink: Net verniet het ek alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn beskerm, sodat daar nooit iets van sy goed vermis is nie; en hy vergeld my kwaad vir goed. Mag God so aan die vyande van Dawid doen en so daaraan toedoen, as ek van almal wat aan hom behoort, tot môre een laat oorbly wat manlik is. Toe Abígail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig. En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op mý, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek, en luister na die woorde van u dienares. My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van 'n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom. Maar wat my betref, u dienares het my heer se jongmanne wat u gestuur het, nie gesien nie. En nou, my heer, so waar as die HERE leef en u siel leef, dit is die HERE wat u teruggehou het om in bloedskuld te geraak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word. En laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek. Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die HERE sal sekerlik vir my heer 'n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.
1 SAMUEL 25:2-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, 'n baie ryk man. Hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad. Hy was besig om sy skape in Karmel te skeer. Die naam van die man was Nabal en die naam van sy vrou Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi, maar die man was 'n regte korrelkop en onbeskof. Hy was 'n Kalebiet. Toe Dawid in die woestyn verneem dat Nabal skape skeer, het hy tien jong manne gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Karmel toe, en as julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit! Ek het verneem dat hulle besig is om by u te skeer. U skaapwagters was by ons en ons het hulle nie kwaad aangedoen nie. Hulle het niks vermis solank hulle in Karmel was nie. Vra maar u veewagters sodat hulle dit kan vertel. Wees dan tog my mense goedgesind. Ons het op die regte tyd gekom. Gee asseblief wat u kan afstaan aan u seun Dawid en sy manne.” Die jong manne van Dawid het gekom en Dawid se hele boodskap aan Nabal oorgedra en gewag. Maar Nabal het die manne van Dawid geantwoord: “Wie is Dawid, wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af. Moet ek nou my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit vir mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?” Die jong manne van Dawid het net daar in hulle spore omgedraai en teruggegaan. Hulle het alles wat Nabal gesê het, vir Dawid gaan vertel. Dawid het toe aan sy manne gesê: “Gord aan julle swaarde!” En elkeen het sy swaard aangegord, Dawid ook. Omtrent vier honderd man het saam met Dawid opgetrek, terwyl twee honderd by hulle goed gebly het. Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar. Tog was die manne baie goed vir ons. Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie. Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het. Nou kan u gerus gou kyk wat u kan doen, want daar is klaar besluit om vir Meneer en sy hele huis te straf; en hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.” Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai. Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.” Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie. Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom. Dawid het juis net gedink: ek het verniet alles wat aan daardie man behoort in die woestyn opgepas, sodat daar niks van sy goed vermis is nie. Hy vergeld my kwaad vir goed. Mag God my deur my vyande om die lewe bring as ek teen môreoggend nog enige manspersoon van Nabal laat oorbly. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde. Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy. Maar ek, ek het nie die manne van Meneer vir wie Meneer gestuur het, gesien nie. Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek. Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg. Vergewe tog my oortreding, want die Here sal beslis vir u 'n bestendige huis besorg, omdat Meneer die oorloë van die Here voer, en mag 'n ramp u nooit tref nie.
1 SAMUEL 25:2-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar was 'n man in Maon wie se boerdery in Karmel was. Dié man was baie ryk. Hy het drieduisend skape en duisend bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape te skeer in Karmel. Die man se naam was Nabal en sy vrou se naam was Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand en 'n mooi voorkoms gehad; maar die man was hard en 'n boosdoener. Hy was 'n afstammeling van Kaleb. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer, het hy tien jong manne afgevaardig. Dawid het vir die jong manne gesê: “Gaan op na Karmel en gaan dan na Nabal. Vra namens my hoe dit met hom gaan en sê dan so, ‘Voorspoed! Vrede vir u! Vrede vir u huis en vir alles wat aan u behoort! Ek hoor nou dat hulle besig is om vir u te skeer. Wel, die herders wat aan u behoort, was saam met ons. Ons het hulle nie verneder nie, en hulle het niks vermis die hele tyd wat hulle in Karmel was nie. Vra maar vir u jong manne en hulle sal dit vir u bevestig. Laat my jong manne dan nou guns vind in u oë, want dit is 'n goeie dag waarop ons gekom het. Gee dan asseblief wat u byderhand het vir u dienaars en vir u seun, vir Dawid.’ ” Die jong manne van Dawid het daar aangekom, aan Nabal al hierdie woorde namens Dawid oorgedra, en toe gewag. Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat dros; amper elkeen loop weg van sy baas af. Moet ek nou my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?” Die jong manne van Dawid het in hulle spore omgedraai. Hulle het teruggegaan en toe hulle by Dawid aankom, het hulle al hierdie woorde aan hom oorgedra. Dawid sê toe vir sy manne: “Gord elkeen van julle sy swaard aan!” Elkeen het sy swaard aangegord, en ook Dawid het sy swaard aangegord. Ongeveer vierhonderd man het agter Dawid aan opgetrek, en tweehonderd het by die pakgoed gebly. Vir Abigajil, die vrou van Nabal, het een van die jong manne intussen berig gebring: “Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te groet, en hy het hulle uitgeskel. Maar die manne was baie goed vir ons. Ons is nie verneder nie, en het niks vermis nie, die hele tyd wat hulle saam met ons rondgetrek het toe ons in die veld was. Hulle was 'n muur om ons, snags sowel as bedags, die hele tyd wat ons by hulle was terwyl ons die skape oppas. Daarom, oorweeg dit en kyk wat u kan doen, want onheil wag op ons heer en sy hele huis. En hy is te veel van 'n skobbejak dat 'n mens met hom kan praat.” Abigajil het gou gemaak; sy het tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf voorbereide skape, vyf sea geroosterde graan, honderd blokke saamgeperste rosyne en twee honderd blokke saamgeperste droë vye geneem en dit op donkies gelaai. Sy sê toe vir haar diensmeisies: “Gaan voor my uit. Kyk, ek kom agterna.” Vir haar man Nabal het sy egter nie daarvan vertel nie. Terwyl sy op die donkie ry en onder die beskutting van die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis af in haar rigting, sodat sy hulle ontmoet. Dawid het gedink: “Ek het beslis pure verniet alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn opgepas, sodat daar niks van alles wat aan hom behoort, vermis geraak het nie. Hy vergeld my kwaad vir goed. Mag God my, Dawid, swaar straf as ek van almal wat aan hom behoort, een mansmens tot môreoggend laat oorbly.” Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy vinnig van die donkie afgeklim, voor Dawid neergeval en diep neergebuig met haar gesig teen die grond. Sy het by sy voete neergeval en gesê: “Die blaam rus op my, my heer. Laat my, u dienares, asseblief direk met u praat en luister na die woorde van u dienares. My heer moet hom tog nie steur aan Nabal nie, daardie skobbejak van 'n man, want soos sy naam is, so is hy. Sy naam is Nabal, en die dwaasheid loop saam met hom. Maar ek, u dienares, het nie die jong manne van my heer, wat u gestuur het, gesien nie. En nou, my heer, so waar as die HERE leef, en u leef – die HERE, wat u daarvan weerhou het om by bloedskuld betrokke te raak deur met u eie hand 'n oorwinning vir uself te behaal – mag dit nou met u vyande en met hulle wat daarop uit is om my heer kwaad aan te doen, gaan soos met Nabal. En nou, wat hierdie buitengewone geskenk betref wat u slavin vir my heer gebring het, laat dit gegee word aan die jong manne wat in my heer se voetspore volg. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares. “Aangesien die HERE beslis vir my heer 'n bestendige huis sal vestig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer, mag onheil nie naby u kom solank u leef nie!
1 SAMUEL 25:2-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar was 'n man in Maon wie se besittings in Karmel was; en die man was baie groot, en hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad; en hy was besig om sy skape te skeer in Karmel. En die naam van die man was Nabal; en die naam van sy vrou Abígail; en sy was 'n vrou met 'n goeie verstand en 'n pragtige voorkoms; en hy was uit die huis van Kaleb. En Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal sy skape geskeer het. Dawid het tien jongmanne uitgestuur, en Dawid het aan die jongmanne gesê: Gaan op na Karmel en gaan na Nabal en groet hom in my Naam. En so moet julle vir hom wat in voorspoed lewe sê: Vrede vir jou en vrede vir jou huis en vrede vir alles wat jy het. En nou het ek gehoor dat jy skeerders het; nou, jou herders wat by ons was, ons het hulle geen kwaad aangedoen nie, en daar was geen iets vir hulle vermis nie, al die tyd wat hulle in Karmel was. Vra jou jongmanne, en hulle sal jou wys. Daarom, laat die jongmanne guns in u oë vind, want ons kom op 'n goeie dag; gee tog alles wat in u hand kom aan u dienaars en aan u seun Dawid. En toe Dawid se jongmanne kom, het hulle met Nabal gespreek volgens al daardie woorde in die naam van Dawid, en hulle het opgehou. En Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: Wie is Dawid? en wie is die seun van Isai? daar is deesdae baie diensknegte wat elkeen van sy heer verbreek. Sal ek dan my brood en my water en my vleis wat ek vir my skeerders geslag het, neem en dit aan mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie? Daarop het die jongmanne van Dawid omgedraai en weer gegaan en gekom en hom al hierdie woorde vertel. Toe sê Dawid vir sy manne: Gord elkeen sy swaard om. En hulle het elkeen sy swaard omgord; en Dawid het ook sy swaard omgord, en agter Dawid aan opgetrek omtrent vier honderd man; en tweehonderd het by die goed gebly. Maar een van die jongmanne het dit aan Abigail, Nabal se vrou, meegedeel en gesê: Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te groet; en hy het op hulle gesmaad. Maar die manne was baie goed vir ons, en ons het nie seergekry nie, en ons het niks gemis solank ons met hulle in kennis was toe ons in die veld was nie. Hulle was 'n muur vir ons, snags en dag, al die tyd wat ons by hulle was en die skape opgepas het. Weet dan nou en let op wat jy gaan doen; want die onheil is beslis teen ons heer en teen sy hele huisgesin, want hy is so 'n seun van Belial dat 'n man nie met hom kan praat nie. Toe het Abigail gou gemaak en tweehonderd brode en twee sakke wyn en vyf gereedgemaakte skape en vyf mate gebraaide koring en honderd trosse rosyne en tweehonderd vyekoeke geneem en dit op esels gelê. En sy sê vir haar dienaars: Gaan voor my uit; kyk, Ek kom agter jou aan. Maar sy het dit nie vir haar man Nabal vertel nie. En terwyl sy op die esel ry, het sy by die skuilplek van die heuwel afgekom, en kyk, Dawid en sy manne het teen haar afgekom; en sy het hulle ontmoet. En Dawid het gesê: Waarlik, tevergeefs het ek alles wat hierdie man in die woestyn het, bewaar, sodat niks gemis is van alles wat aan hom behoort nie, en hy het my kwaad vir goed vergeld. So en meer doen God ook aan die vyande van Dawid, as Ek van alles wat aan hom behoort, teen die môre laat aansteek wat teen die muur stamp. En toe Abígail Dawid sien, het sy gou en die esel afgesteek en voor Dawid op haar aangesig geval en haarself na die grond gebuig. En hy het voor sy voete neergeval en gesê: Laat hierdie ongeregtigheid op my kom, my heer, en laat u dienares tog voor u gehoor spreek en die woorde van u dienares hoor. Laat my heer tog nie ag gee op hierdie man van Belial, naamlik Nabal nie, want soos sy naam is, so is hy; Nabal is sy naam, en dwaasheid is met hom; maar ek, u dienares, het die jongmanne van my heer wat u gestuur het, nie gesien nie. Nou dan, my heer, so waar as die HERE leef en u siel leef, aangesien die HERE u daarvan weerhou het om te kom om bloed te vergiet en om uself met u eie hand te wreek, laat nou u vyande en die wat kwaad soek vir my HERE, wees soos Nabal. En nou, hierdie seën wat u dienares aan my heer gebring het, laat dit ook gegee word aan die jongmanne wat my heer volg. Vergewe tog die oortreding van u dienares, want die HERE sal beslis vir my heer 'n vaste huis maak; want my heer voer die oorloë van die HERE, en daar is geen onheil in jou gevind al jou dae nie.
1 SAMUEL 25:2-28 Die Boodskap (DB)
Daar was ’n man in Maon wat ook ’n plek by Karmel gehad het. Dié man was skatryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape in Karmel te skeer. Die man se naam was Nabal. Hy was van die Kalebstam. Sy vrou se naam was Abigajil. Sy was ’n mooi en slim vrou, maar hy was ’n hardkoppige en gemene vent. Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer. Hy stuur toe tien jong manne en sê vir hulle: “Gaan na Nabal toe in Karmel en sê vir hom ek stuur groete. Sê vir hom ek wens hom alle voorspoed toe: vir hom, vir sy familie en vir sy boerdery. Sê vir hom ek het gehoor dis skeertyd. As hy vir sy werkers vra, sal hulle hom vertel dat ons sy skaapwagters altyd goed behandel het as hulle in ons omgewing was. In al die tyd wat hulle by Karmel was, het daar nooit ’n skaap weggeraak nie. Daarom verwag ek dat hy julle vriendelik sal ontvang. Dis buitendien ’n feestyd. Sê vir hom ek vra beleef dat hy vir my en vir julle sal gee wat hy kan.” Die jong manne het gegaan en namens Dawid alles presies net so vir Nabal gesê en vir sy antwoord gewag. Nabal sê toe vir Dawid se mense: “Wie is dié Dawid? En wie is dié seun van Isai miskien? Vaderland, daar is deesdae ook so baie slawe wat van hulle base af wegloop! Dink julle nou regtig ek sal my brood en water en die skape wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir mense gee wat ek van g’n kant af ken nie?” Die manne van Dawid het net daar omgedraai en teruggegaan. Toe hulle by Dawid kom, het hulle hom alles vertel. “Kry julle swaarde, manne,” het Dawid gesê. Elkeen het sy swaard in sy lyfband gesteek; Dawid ook. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om die goed op te pas. Een van die jong skaapwagters het vir Nabal se vrou, Abigajil, gaan vertel wat gebeur het: “Dawid het uit die woestyn manne gestuur om vir Meneer voorspoed toe te wens, maar hy het hulle afgejak. En dié mense was baie goed vir ons: toe ons in die oop veld was, het niemand ons ooit lastig geval as ons naby hulle was nie. Daar is ook nooit ’n skaap gesteel nie. Solank ons met die skape naby hulle gewei het, was hulle dag en nag soos ’n muur om ons. U moet nou asseblief maar kyk wat u kan doen, want Meneer en sy hele familie gaan groot teëspoed kry. En hy is so ’n nare mens dat niemand met hom daaroor kan praat nie.” Abigajil het gou 200 brode, twee groot erdekruike vol wyn, vyf gaar skape, vyf bakke vol gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies laat laai. Sy het vir haar helpers gesê: “Gaan solank, ek kom agterna.” Maar sy het niks vir haar man gesê nie. Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom. Dawid het juis geloop en dink: “Ek het met ander woorde die vent se goed verniet opgepas in die woestyn. Hy het nie ’n enkele skaap verloor nie, en nou kry ek stank vir dank. God weet, nie een van die mans of seuns by hom sal môre die son sien opkom nie!” Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie afgeklim en by Dawid se voete met haar gesig teen die grond gebuig. Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister? U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie. So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan. Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. Gee dit gerus vir die jong manne wat altyd by u is. En vergewe asseblief die fout wat ek gemaak het. Die Here sal vir seker vir u ’n koningskap gee wat lank sal hou, want u moet die Here se oorloë veg. ’n Ramp sal u nooit tref nie
1 SAMUEL 25:2-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n ryk man in Maon wat ’n plaas in Karmel gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was besig om in Karmel te skeer. Die man se naam was Nabal en sy vrou s’n Abigajil. Sy was ’n verstandige en mooi vrou. Maar Nabal, ’n Kalebiet, was rof en onbeskof in alles wat hy gedoen het. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer, stuur hy tien van sy jong manne na Karmel toe met die volgende boodskap: “Gaan na Karmel toe en wanneer julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. Sê dan vir hom: ‘Mag jy lank in vrede lewe! Voorspoed ook vir jou familie en alles wat aan jou behoort! Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie. Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’” Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag. “Wie is dié man Dawid nogal?” antwoord hy minagtend. “Wie dink hierdie seun van Isai is hy? Daar is deesdae baie slawe wat van hulle meesters af wegloop. Moet ek my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit net so gee vir mense wat van wie weet waar af kom?” Dawid se boodskappers het omgedraai en teruggegaan. Hulle het vir Dawid alles vertel wat Nabal gesê het. “Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas. Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig. Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie. Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape. Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!” Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie. Terwyl sy op ’n donkie ’n bergkloof afgaan, sien sy vir Dawid en sy manskappe wat in haar rigting aankom. Dawid het so pas gedink: “Dis verniet dat ons hierdie vent se kuddes in die woestyn beskerm het sodat niks van sy besittings weggeraak het of gesteel is nie. Maar hy het my goedheid met kwaad vergeld. Mag God met my afreken indien selfs net een manlike lid van sy huishouding teen môre-oggend nog lewe!” Toe Abigajil vir Dawid sien, klim sy vinnig van die donkie af. Sy buig laag voor hom. Sy val toe by sy voete neer en sê: “Verskoon my tog asseblief, Meneer. Luister tog na wat ek vertroulik vir u wil sê. Nabal is ’n niksnut. Asseblief, moenie u aan hom steur nie. Hy is soos sy naam lui ’n dwaas. Ek het ongelukkig nooit eens u boodskappers te sien gekry nie. “Maar nou, my heer, so seker as wat die HERE leef en u leef, aangesien die HERE u weerhou het van bloedvergieting en om self wraak te neem, mag al u vyande word soos Nabal, elkeen wat kwaad teen u beplan. “Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is. Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die HERE sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die HERE se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.