1 Samuel 17:32-51

1 Samuel 17:32-51 DB

Dawid het vir Saul gesê: “Ons moenie moed verloor oor hierdie Filistyn nie. Hierdie dienaar van u sal teen hom gaan veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Nee, man, jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie! Jy is nog ’n kind en hy is van kleintyd af al ’n beroepsoldaat.” “U Majesteit,” antwoord Dawid vir Saul, “ek pas lank vir my pa skape op. As ’n leeu of ’n beer een van die lammers in die trop vang, gaan ek agter hom aan en slaan hom plat en kry die lam terug. As hy my aanval, gryp ek hom aan sy keel en slaan hom dood. Ek het leeus en bere kafgeloop en ek sal dieselfde doen met hierdie Filistyn, want hy het met die manskappe van die lewende God gespot. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.” Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan. Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het. Vandag gaan die Here jou aan my oorgee: ek gaan jou neerslaan en jou kop afkap. Vandag gaan ek die lyke van die soldate van die Filistyne vir die aasvoëls en die jakkalse voer. Dan sal die hele wêreld weet dat Israel ’n God het, en al die mense wat hier bymekaar is, sal weet dat die Here nie swaarde en spiese nodig het om mee te red nie. Die Here besluit wie ’n oorlog wen en Hy het julle klaar aan ons oorgegee.” Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val. Dawid het die Filistyn gewen met slingervel en klip. Dawid het hom raak gegooi en hom so doodgemaak. Net so, sonder ’n swaard het Dawid dit gedoen. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan, sy swaard uit die skede getrek en hom doodgemaak. Daarna het hy sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle weggehardloop.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 17:32-51

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid