1 Samuel 17:32-51

1 Samuel 17:32-51 AFR20

Dawid het vir Saul gesê: “'n Mens moenie moed verloor oor hom nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.” Toe sê Dawid vir Saul: “U dienaar het nog altyd vir sy vader die kleinvee opgepas. Wanneer daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n lam uit die trop wegdra, gaan ek uit agter hom aan, slaan hom plat en ruk die lam uit sy bek. As hy opstaan en my aanval, gryp ek hom aan sy kaak, slaan hom plat en maak hom dood. U dienaar het al 'n leeu en selfs ook 'n beer doodgeslaan. Met hierdie onbesnede Filistyn sal dit net soos met een van hulle gaan, omdat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God. Die HERE wat my gered het uit die klou van 'n leeu en die klou van 'n beer,” het Dawid gesê, “dit is Hy wat my sal red uit die hand van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die HERE met jou wees!” Saul het Dawid sy eie uitrusting laat aantrek. Hy het 'n helm van brons op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek. Dawid het ook Saul se swaard oor sy uitrusting vasgegord en probeer om te loop, want hy het dit nog nooit probeer nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek het dit nog nooit probeer nie.” Toe haal Dawid dit van hom af. Hy het sy staf in sy hand geneem, vir hom vyf gladde klippe in die spruit uitgesoek en dit in die skaapwagtersak wat hy gehad het, in die kantsak, gesit. Met sy slingervel in sy hand het hy die Filistyn genader. Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, met voor hom die man wat die grootskild dra. Toe die Filistyn mooi kyk en Dawid sien, het hy hom geminag, want hy was nog maar 'n seun, rooierig, en met 'n mooi voorkoms. Die Filistyn sê toe vir Dawid: “Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: “Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.” Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met 'n swaard en met 'n vegspies en met 'n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy 'n bespotting maak. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan en jou kop afkap. Ek sal die lyke van die Filistyne se leër vandag nog aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee, sodat die hele aarde sal weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die HERE verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.” Toe die Filistyn gereedmaak en al nader kom om Dawid tegemoet te loop, het Dawid die Filistyn vinnig tegemoet gehardloop in die rigting van die gevegslinie. Dawid het sy hand in die sak gesteek en 'n klip daaruit geneem, met die slingervel gegooi, en die Filistyn op sy voorkop getref. Die klip het sy voorkop binnegedring, en hy het op die grond op sy gesig geval. Dawid het die oorhand gekry oor die Filistyn met 'n slingervel en 'n klip. Hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak, al was daar nie 'n swaard in Dawid se hand nie. Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 17:32-51

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid