1 SAMUEL 17:32-51

1 SAMUEL 17:32-51 NLV

“Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!” “Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!” Maar Dawid het volgehou: “Ek pas my pa se skape op,” sê hy. “As ’n leeu of ’n beer kom om ’n lam uit die trop weg te dra, sit ek hom agterna. Ek val hom aan en red die lam uit sy bek. As hy my wil aanval, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het dit al met sowel ’n leeu as ’n beer gedoen, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos een van hulle word omdat hy die leër van die lewende God beledig het! Die HERE wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!” Saul het uiteindelik ingestem. “Goed, doen dit,” sê hy. “En mag die HERE met jou wees!” Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek: ’n bronshelm op sy kop en ’n borsharnas. Dawid het ook sy swaard bo-oor sy uitrusting vasgemaak. Toe hy probeer loop, kon hy nie, want hy het dit nog nie vantevore gedra nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy. “Ek is nie daaraan gewoond nie.” Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet. Die Filistyn het na Dawid toe uitgekom, met sy skilddraer voor hom. Toe hy hom sien, het hy hierdie jong rooierige en aantreklike seun geminag. Hy skreeu vir hom: “Is ek ’n hond dat jy met ’n stok na my toe kom?” Toe vervloek hy Dawid in die naam van die Filistyne se gode. “Kom nader sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee!” skree hy. Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die HERE, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig. Vandag gee die HERE jou oor in my mag. Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap, en die lyke van die Filistynse leër vir die roofvoëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee. Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die HERE nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die HERE s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!” Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan. Hy steek sy hand in sy slingersak, vat ’n klip daaruit, gooi dit met sy slingervel en tref die voorkop van die Filistyn. Die klip het in sy kop ingedring en hy het met sy gesig vooroor op die grond geval. So het Dawid met sy slinger en ’n klip die Filistyn oorwin. Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ’n swaard in Dawid se hande was. Toe hardloop Dawid, trek die Filistyn se swaard uit die skede en kap sy kop daarmee af.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 SAMUEL 17:32-51

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid