1 Konings 18:30-46

1 Konings 18:30-46 DB

Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.” Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog. Toe die mense dit sien, het hulle op die grond neergeval en hard uitgeroep: “Die Here is die enigste ware God! Die Here is die enigste ware God!” Toe sê Elia vir die mense: “Gryp die Baälprofete. Moenie dat een wegkom nie.” Elia het hulle toe na die Kisonrivier geneem en gesorg dat hulle almal doodgemaak word. Elia het toe vir Agab gesê: “Meneer, u kan maar huis toe gaan en solank begin feesvier, want ek hoor al die plofgeluid van ’n stortreën.” Terwyl Agab feesvier, het Elia na die bopunt van die berg Karmel toe gestap. Daar het hy neergebuig en sy kop tussen sy knieë gesit. Elia het vir sy helper gesê: “Klim nog hoër en kyk na die see se kant toe.” Die helper het teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia het sewe keer vir hom gesê om te gaan kyk. Toe hy die sewende keer weer gaan kyk, het hy iets gesien. “Meneer,” het hy gesê, “ek sien ’n wolkie so groot soos ’n man se hand. Dit kom van die see se kant af.” Elia het vir hom gesê: “Gaan sê gou vir die koning hy moet vinnig huis toe ry anders gaan hy natreën.” Skielik was die hemel vol swart wolke en ’n groot donderstorm het losgebars. Agab is net betyds in sy wa terug Jisreël toe. Die Here het Elia wonderlike krag gegee sodat hy sy lang kleed om sy heupe vasgebind het en tot by die afdraaipad na Jisreël toe voor Agab se wa uit gehardloop het.