1 Konings 18:30-46

1 Konings 18:30-46 AFR20

Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die HERE wat afgebreek was. Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die HERE gesê het: “Israel sal jou naam wees.” Hy het met die klippe in die Naam van die HERE 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak. Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, HERE, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die HERE neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek. Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die HERE, Hy is God! Die HERE, Hy is God!” Elia sê toe vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Niemand van hulle moet wegkom nie!” Hulle het hulle gegryp, en Elia het hulle afgeneem na die spruit Kison en hulle daar omgebring. Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan! Eet en drink, want ek hoor die geruis van reën.” Agab het gegaan om te eet en drink, maar Elia het na die kruin van Karmel opgegaan en geboë op die grond gaan sit met sy kop tussen sy knieë. Hy het vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief boontoe en kyk uit in die rigting van die see.” Hy gaan toe boontoe en kyk uit, maar sê: “Daar is niks nie.” Elia sê toe: “Gaan weer! Doen dit sewe keer!” Die sewende keer sê hy toe: “Daar kom 'n wolkie so klein soos die palm van 'n man se hand uit die see op!” Toe sê Elia: “Gaan! Sê vir Agab, ‘Span in en gaan af, sodat die reën jou nie terughou nie.’ ” In 'n oogwink het die hemelruim donker geword van wolke en wind, en 'n geweldige reënbui het uitgesak. Agab het op sy strydwa geklim en na Jisreël gegaan. Die hand van die HERE het van Elia besit geneem. Hy het sy kleed opgebind en voor Agab uit gehardloop tot by Jisreël.