1 KONINGS 18:30-46

1 KONINGS 18:30-46 NLV

Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die HERE wat afgebreek was, herstel het. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die HERE gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die HERE reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het. HERE, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.” Onmiddellik het daar vuur van die HERE gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog! Toe die volk dit sien, val hulle op die grond en roep uit: “Die HERE is God! Die HERE is God!” Elia beveel hulle toe: “Gryp die profete van Baäl. Moenie dat ’n enkele een van hulle wegkom nie!” Die volk het hulle gegryp en Elia het hulle na die Kisonspruit laat afneem. Hy het hulle daar doodgemaak. Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!” Agab het toe gaan eet en drink, maar Elia het tot op die top van Karmelberg geklim. Daar het hy met sy kop tussen sy knieë op die grond neergebuig. Hy sê toe vir sy dienaar: “Gaan kyk uit oor die see.” Die dienaar het gekyk, na Elia toe teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia sê vir hom: “Gaan kyk weer!” Sewe keer het Elia hom gestuur. Die sewende keer kom sê die dienaar: “Ek sien ’n klein wolkie so groot soos ’n man se hand wat uit die see opkom.” Toe sê Elia: “Maak gou! Gaan sê vir Agab: ‘Span jou wa in en gaan af na jou huis toe anders sal die reën jou vaskeer!’” Spoedig was die lug donker van onweerswolke. ’n Sterk wind het ’n groot reënstorm gebring. Agab het dadelik na Jisreël toe vertrek. Die HERE het Elia krag gegee. Hy het sy gordel vasgemaak en toe voor Agab se wa uit gehardloop tot by Jisreël.