PSALMS 69:1-12

PSALMS 69:1-12 AFR53

VIR die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” 'n Psalm van Dawid. Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my. Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God. Die wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my hoof; die wat klaar staan om my te vernietig, wat sonder grond my vyande is, is magtig; wat ek nie geroof het nie, moet ek dan teruggee. O God, Ú weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie. Laat die wat u verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, HERE van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel! Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig. Vreemd het ek vir my broers geword en 'n onbekende vir die seuns van my moeder. Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval. Wat my aangaan, my siel het geween met vas; maar dit het smaadhede vir my geword. Ek het ook 'n rougewaad my kleding gemaak en vir hulle 'n spreekwoord geword.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 69:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid