PSALMS 17:1-9

PSALMS 17:1-9 AFR53

'N GEBED van Dawid. HERE, hoor 'n regverdige saak, let op my smeking; luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe. Laat my reg van u aangesig uitgaan; laat u oë regverdig sien. U het my hart getoets, dit in die nag ondersoek, U het my gekeur, U vind niks nie; wat ek ook dink, my mond oortree nie. Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy. My gange het vasgehou aan u spore, my voetstappe het nie gewankel nie. Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord! Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders! Bewaar my soos 'n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels teen die goddelose wat my geweld aandoen, my doodsvyande wat my omring.