LEVÍTIKUS 11:4-19

LEVÍTIKUS 11:4-19 AFR53

Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: die kameel, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie — onrein is hy vir julle; en die das, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie — onrein is hy vir julle; en die haas, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie — onrein is hy vir julle; ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie — onrein is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle aas nie raak nie — onrein is hulle vir julle. Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere — dit mag julle eet. Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is — 'n gruwel is dit vir julle. Ja, 'n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir 'n gruwel hou. Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie — 'n gruwel is dit vir julle. En die volgende moet julle van die voëls vir 'n gruwel hou — hulle mag nie geëet word nie, 'n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël; en die kuikendief en die valk volgens sy soorte; elke kraai volgens sy soorte; en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte; en die steenuil en die visvanger en die steunuil; en die silweruil en die pelikaan en die klein-aasvoël; en die groot sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep-hoep en die vlermuis.