Levitikus 11:4-19

Levitikus 11:4-19 AFR20

“ ‘ Die volgende diere wat herkou of wat gesplete hoewe het, mag julle egter nie eet nie: “ ‘Kamele, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle •onrein; “ ‘Dassies, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle onrein; “ ‘Hase, want hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie – hulle is beslis vir julle onrein; “ ‘ Varke, want hulle het volledig gesplete hoewe, maar hulle herkou nie – hulle is beslis vir julle onrein. “ ‘Van hulle vleis mag julle glad nie eet nie en aan hulle karkasse mag julle nie raak nie. Hulle is beslis vir julle onrein. “ ‘ Van alles wat in water is, mag julle die volgende eet: “ ‘Alles met vinne en skubbe wat in die oseane of in waterstrome leef, dít mag julle eet. Maar alles in die oseane of in waterstrome wat nie vinne of skubbe het nie – van alles wat krioel in water en van enige lewende wese wat in water hou – dit moet vir julle beslis afstootlik wees. Afstootlik moet dit vir julle wees: Julle mag nie van hulle vleis eet nie en hulle karkasse moet julle as afstootlik beskou. Alles in die water sonder vinne en skubbe moet vir julle beslis afstootlik wees. “ ‘ Die volgende diere met vlerke moet vir julle afstootlik wees en julle mag dit nie eet nie, hulle is beslis afstootlik: “ ‘gewone arende, breëkop-arende; swartaasvoëls, jakkalsvoëls en alle soorte valke; alle soorte kraaie; steenuile, ooruile; seemeeue; alle soorte kleinvalkies, naguiltjies; visarende; grasuile, nonnetjiesuile; bontkraaie; Egiptiese aasvoëls, ooievaars en alle soorte reiers; hoep-hoepe en vlermuise.