LEVITIKUS 11:4-19

LEVITIKUS 11:4-19 NLV

Van die volgende diere wat hier genoem word, mag julle nie eet nie omdat hulle óf gesplete hoewe het óf herkou, maar nie albei nie. Die kameel mag nie geëet word nie, want al herkou die dier, het hy nie gesplete hoewe nie. Dit geld ook van die dassie en die haas. Hulle mag nooit geëet word nie. ’n Vark mag ook nie geëet word nie, want al het dit gesplete hoewe, herkou ’n vark nie. Julle mag nie van die vleis van hierdie diere eet of aan hulle karkasse raak nie. Hulle is onrein vir julle. “Wat die seediere betref, mag julle alles eet wat vinne en skubbe het, of dit nou in vars water of in sout water voorkom. Seediere wat nie beide vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie. Julle moet hulle verafsku. Hulle sal altyd vir julle verbode wees. Julle mag nooit hulle vleis eet of selfs aan hulle dooie liggame raak nie. Ek herhaal, enige seedier wat nie beide vinne en skubbe het nie, is ten strengste verbode vir julle. “Dit is die voëls wat julle nooit mag eet nie omdat hulle afskuwelik is vir julle: die arend, die aasvoël, die visvalk, verskillende valksoorte, al die kraaisoorte, die volstruis, die nagvalk, die seemeeu en roofvoëls van verskillende soorte, die klein uil, die visvanger, die groot uil, die wit uil, die pelikaan, die aasvreter, die ooievaar, verskillende soorte reiers, die hoep-hoep en die vlermuis.