JESAJA 33:1-9

JESAJA 33:1-9 AFR53

WEE jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel. HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid! Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi. Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los. Die HERE is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid. En daar sal bestendigheid van jou tye wees, 'n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees. Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik. Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie. Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.