Jesaja 33:1-9

Jesaja 33:1-9 AFR20

Wee jou, verwoester, jy wat nie verwoes is nie, trouelose, aan wie niemand ontrou was nie! Wanneer jy jou verwoestingswerk voltooi het, sal jy verwoes word; wanneer jy ophou om troueloos te wees, sal daar troueloos teen jou opgetree word. HERE, wees ons genadig! Op U wag ons. Wees elke oggend ons krag, ja, ons verlossing in 'n tyd van nood. Vir die geluid van 'n gedreun vlug volke; vanweë u verhewenheid word nasies verstrooi. Wat julle gebuit het, nasies, word bymekaargemaak, soos kaalvretersprinkane bymekaarmaak. Soos swerms toesak, word op julle buit toegesak. Die HERE is verhewe, ja, Hy woon in die hoogte. Hy vul Sion met reg en geregtigheid. Hy sal bestendigheid aan jou tye bied, 'n rykdom van bystand, wysheid en kennis, ontsag vir die HERE – dit is sy skatte. Kyk, die mense van Jerusalem roep om hulp op straat, die boodskappers van vrede huil bitterlik. Gebaande weë was verlate, niemand het meer op die pad verbygegaan nie. Hy het verdrae verbreek, hy het stede geminag, hy het mense nie geag nie. Dit het droog geword, die land was uitgedor; die Libanon was verbluf, het swart geword. Saron het soos die Araba geword; Basan en Karmel het hulle blare verloor.