HEBREËRS 12:1-13

HEBREËRS 12:1-13 AFR53

DAAROM dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel 'n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

Video for HEBREËRS 12:1-13