Hebreërs 12:1-13

Hebreërs 12:1-13 AFR20

Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Dink inderdaad aan Hom wat so 'n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie. Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: “My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. Verder, ons het tog ons aardse vaders gehad, wat ons getug het, en ons het hulle gerespekteer. Sal ons ons nie baie eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en leef nie? Want hulle het ons vir 'n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. Op die oomblik lyk elke tugtiging wel nie of dit blydskap bring nie, maar droefheid. Later lewer dit egter 'n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is: 'n vrug van •geregtigheid. Daarom, tel op die slap hande en die lam knieë, en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond kan word.

Video for Hebreërs 12:1-13