HEBREËRS 12:1-13

HEBREËRS 12:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, terwyl ons ook so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Dink inderdaad aan Hom wat so 'n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie. Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: “My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. Verder, ons het tog ons aardse vaders gehad, wat ons getug het, en ons het hulle gerespekteer. Sal ons ons nie baie eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en leef nie? Want hulle het ons vir 'n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. Op die oomblik lyk elke tugtiging wel nie of dit blydskap bring nie, maar droefheid. Later lewer dit egter 'n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is: 'n vrug van •geregtigheid. Daarom, tel op die slap hande en die lam knieë, en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond kan word.

HEBREËRS 12:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Ons het 'n groot klomp getuies rondom ons, en daarom moet ons alles los wat ons kan keer om te doen wat ons moet doen, ja, ons moet ook die sonde los wat so maklik vir ons kan vashou. Daarom moet ons ook aanhou om te glo soos iemand wat aanhou om in 'n resies te hardloop wat hy moet klaarmaak. Ons moet dit doen terwyl ons aanhou om te kyk na Jesus, want dit is Hý wat ons van die begin af laat glo het en dit is Hý wat ons tot die einde laat glo. Jesus het geweet dat Hy later weer bly sou wees, en daarom het Hy gedink die skande van die kruis maak nie saak nie. Hy het aangehou om swaar te kry totdat Hy aan die kruis gesterf het. Daarom sit Hy nou op die belangrikste plek by die troon van God. Julle moet goed onthou dat Jesus geduldig was toe die sondaars slegte dinge teen Hom gesê en gedoen het. Julle moet aan Jesus dink sodat julle nie moeg en moedeloos word nie. Julle probeer hard om nie sonde te doen nie, maar julle het nog nie so hard teen die sonde geveg dat mense vir julle wil doodmaak nie. Het julle vergeet dat die Here vir julle bemoedig het omdat julle sy kinders is? Hy het gesê: My seun, die dinge wat die Here vir jou leer, moet belangrik wees vir jou, jy moenie moedeloos word wanneer Hy jou straf nie, want Hy leer vir jou omdat Hy lief is vir jou, Hy straf elke seun wat Hy aanneem. Julle kry swaar sodat julle kan leer, daarom moet julle aanhou glo, want dit is Gód wat julle laat swaarkry omdat julle sy kinders is. Want elke pa leer vir sy kind. God leer vir al sy kinders so. As Hy nie vir julle so kan leer nie, dan is julle buite-egtelike kinders, julle is dan nie God se ware kinders nie. Ek wil nog iets sê: Ons pa's was mense op die aarde, hulle het vir ons geleer, en ons het hulle gerespekteer. Maar ons sal baie meer moet luister na die Vader in die hemel, Hy wat vir almal die lewe gee. As ons luister, dan sal ons ook lewe. Want ons pa's het ons vir 'n kort rukkie geleer soos hulle gedink het dit is goed. Maar ons hemelse Vader leer vir ons hier op die aarde omdat dit goed is vir ons en omdat Hy wil hê ons moet gewyd wees, ons moet heilig wees, soos Hy heilig is. En elke maal wanneer Hy vir ons leer, dan voel dit vir ons soos iets om oor te huil en nie soos iets om oor bly te wees nie. Maar God het vir ons so geleer en ge-oefen dat ons later sal doen wat Hy wil hê en vrede sal maak. Julle is moedeloos, maar julle moet sterk glo. En julle moet aanhou om op die reguit pad te loop, dan sal die swak gelowiges wat vir julle volg, opstaan en doen wat God sê, hulle sal nie meer wees soos mense wat lam is nie.

HEBREËRS 12:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel 'n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

HEBREËRS 12:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

HEBREËRS 12:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom, aangesien ons ook deur so 'n groot wolk van getuies omsingel is, laat ons elke las aflê en die sonde wat ons so maklik tref, en laat ons die wedloop wat voor ons lê, met geduld hardloop, Met die oog op Jesus, die Skepper en Voleinder van ons geloof; wat vanweë die blydskap wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het, en sit aan die regterhand van die troon van God. Want let op hom wat so 'n teëspraak van sondaars teen homself verduur het, sodat julle nie moeg en moeg word in julle sinne nie. Julle het nog nie tot bloed verset, teen sonde gestry nie. En julle het die vermaning vergeet wat tot julle spreek soos tot kinders: My seun, verag die tugtiging van die Here nie, en moenie beswyk as jy deur Hom bestraf word nie. Want wie die Here liefhet, tugtig Hy en gésel Hy elke seun wat Hy aanneem. As julle tugtiging verdra, behandel God met julle soos met seuns; want watter seun is dit vir wie die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel het, dan is julle basters en nie seuns nie. Verder het ons vaders van ons vlees gehad wat ons tereggewys het, en ons het aan hulle eerbied bewys; moet ons nie veel eerder aan die Vader van die geeste onderwerp en lewe nie? Want hulle het ons voorwaar 'n paar dae lank getugtig na hul eie welbehae; maar hy tot ons voordeel, sodat ons deel kan hê aan sy heiligheid. Nou lyk geen tugtiging op die oomblik vreugdevol nie, maar swaar; nogtans lewer dit later die vreedsame vrug van geregtigheid op vir die wat daardeur geoefen word. Daarom, hef die afhangende hande en die swak knieë op; En maak reguit paaie vir julle voete, dat die kreupele nie uit die pad gedraai word nie; maar laat dit liewer genees word.

HEBREËRS 12:1-13 Die Boodskap (DB)

Die lewe is soos ’n wedloop. Op die pawiljoen het ons ’n skare mense wat voor ons met geloof en vertroue in God geleef het. Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop. Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel. Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie. Julle het nog nie regtig so swaargekry as wat julle kan nie. In julle stryd teen al die slegte dinge het julle nog nie by die punt gekom waar julle moes kies tussen lewe en dood nie. Boonop lyk dit of julle vergeet het hoe God sy kinders moed inpraat: “My kind, moenie dit sommer van jou afskud as die Here jou straf nie. Moenie sommer tou opgooi as Hy jou op jou foute wys nie. As die Here iemand liefhet, wys Hy hom wat Hy van hom verwag, al maak dit soms seer. Daarom tree Hy soms ook hard op teenoor sy kinders.” Leer dan iets uit hierdie slegte dinge wat met julle gebeur, want God maak met julle soos ’n pa wat regtig vir sy kinders omgee. Watter kind word nie soms so deur sy pa gestraf nie? As God julle glad nie reghelp as julle verkeerd doen deur dinge met julle te laat gebeur wat nie baie lekker is nie, moet julle weet dat julle nie regtig sy kinders is nie. Alle kinders word soms gestraf. Ons almal het ’n aardse pa gehad wat ons soms gestraf het. Dit het ons respek vir hom gegee. Hoeveel te meer moet ons nie na ons geestelike Vader luister nie? Dan sal ons regtig leef. Ons aardse pa het ons ’n klompie jare grootgemaak so goed hy kon. Soms moes hy ons ook straf. Maar met God is daar soveel meer op die spel. Hy moet ons reghelp vir ons eie beswil, sodat ons uiteindelik net soos Hy heilig kan wees. Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte. Iemand wat sy les uit die straf geleer het, sal ’n mens word wat doen wat God wil hê en daarom in vrede leef. Julle moet nie soos ’n klomp geestelike swakkelinge leef nie. Wees entoesiasties oor wat julle as Christene doen. Loop julle lewenspad met soveel oortuiging dat die mense wat agter julle aankom en maar ’n bietjie sukkel, hulle gesukkel sal afgooi en met net soveel oortuiging as julle hulle lewenspad verder sal loop.

HEBREËRS 12:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie. Julle het in die geveg teen die sonde nog nie tot die dood toe teenstand gebied nie. Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem.” Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie? As God julle nie dissiplineer soos Hy met al sy kinders doen nie, is julle nie regtig sy kinders nie, maar buite-egtelik. Ons aardse vaders het ons gedissiplineer, en ons het hulle daarvoor gerespekteer. Sal ons ons dan nie nog veel eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en só waarlik lewe nie? Ons vaders het ons vir ’n kort tydjie gedissiplineer soos hulle dit goedgevind het, maar God doen dit beslis tot ons beswil, met die doel om ons te laat deel in sy heiligheid. Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ’n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gedissiplineer is, ’n vredevolle oes oplewer van ’n lewe volgens die wil van God. Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieë wat knak, en maak julle hardloopbane reguit. Dan sal die lam ledemate nie ingee nie, maar eerder beter word.

HEBREËRS 12:1-13

HEBREËRS 12:1-13 AFR83HEBREËRS 12:1-13 AFR83HEBREËRS 12:1-13 AFR83HEBREËRS 12:1-13 AFR83HEBREËRS 12:1-13 AFR83HEBREËRS 12:1-13 AFR83HEBREËRS 12:1-13 AFR83