II SAMUEL 16:5-13

II SAMUEL 16:5-13 AFR53

En toe koning Dawid tot by Bahúrim gekom het, kom daarvandaan juis 'n man te voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van Símeï, die seun van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek en Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, alhoewel al die mense en al die helde aan sy regter- en aan sy linkerkant was. En dit het Símeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet! Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die HERE het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy 'n bloedvergieter is. Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan! Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy vloek, en as die HERE aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so? Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die HERE het hom dit beveel. Miskien sal die HERE my ellende aansien en sal die HERE my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref. Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak.