II KONINGS 23:31-37

II KONINGS 23:31-37 AFR53

DRIE-EN-TWINTIG jaar was Jóahas oud toe hy koning geword het, en drie maande het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, die dogter van Jeremia, uit Libna. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE net soos sy vaders gedoen het. Maar Farao Nego het hom in Ribla, in die land Hamat, gevange gehou, dat hy in Jerusalem nie sou regeer nie, en die land 'n boete opgelê van honderd talente silwer en 'n talent goud. En Farao Nego het Éljakim, die seun van Josía, koning gemaak in die plek van sy vader Josía en sy naam verander in Jójakim, maar Jóahas saamgeneem. So het hy dan in Egipte gekom en daar gesterwe. En die silwer en die goud het Jójakim aan Farao gelewer; maar hy het die grond gewaardeer om die geld volgens die bevel van Farao te lewer; volgens wat elkeen geskat is, het hy die silwer en die goud van die bevolking van die land ingevorder om aan Farao Nego te lewer. Vyf-en-twintig jaar was Jójakim oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Sebúdda, 'n dogter van Pedája, uit Ruma. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE net soos sy vaders gedoen het.