2 KONINGS 23:31-37

2 KONINGS 23:31-37 NLV

Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, dogter van Jeremia uit Libna. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE, net soos sy voorvaders gedoen het. Farao Neko het Joahas in Ribla, in die land Hamat, gevange geneem sodat hy nie verder kon regeer nie. Hy het Juda ook ’n boete opgelê van drie en ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud. Farao Neko het toe vir Eljakim seun van Josia as koning in die plek van sy pa aangestel. Die farao het Eljakim se naam verander na Jojakim. Joahas is as gevangene na Egipte toe geneem, waar hy gesterf het. Ten einde die silwer en goud wat farao Neko as boete opgelê het, te betaal, het Jojakim ’n belasting op die burgers van die land gelê. Elkeen moes volgens hulle vermoëns betaal. Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE, net soos sy voorouers gedoen het.