Jehoagas was drie-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gamutal, dogter van Jeremia, uit Libna. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, net soos sy voorvaders gedoen het. Farao Nego het hom in Ribla, in die land Hamat, gevange gehou – hy kon nie in Jerusalem regeer nie. Nego het ook die land 'n boete opgelê van honderd kikkar silwer en 'n kikkar goud. Farao Nego het Eljakim, 'n seun van Josia, koning gemaak in die plek van sy vader Josia, en het sy naam verander na Jojakim. Jehoagas het hy geneem en met hom na Egipte gegaan. Jehoagas het daar gesterf. Die silwer en die goud het Jojakim aan die farao gelewer. Hy moes egter die land belas om die geld op bevel van die farao te kon lewer. Volgens elkeen se geskatte waarde, het hy die silwer en die goud by die volk van die land ingevorder om dit aan farao Nego te lewer. Jojakim was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sebida, dogter van Pedaja, uit Ruma. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, net soos sy voorvaders gedoen het.
Lees 2 Konings 23
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Konings 23:31-37
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's