Numeri 9:1-14

Numeri 9:1-14 CAB23

En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die eerste maand van die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê: Laat die kinders van Israel ook die pasga hou op sy vasgestelde tyd. Op die veertiende dag van hierdie maand, teen die aand, moet julle dit hou op die vasgestelde tyd; volgens al sy gebruike en volgens al sy seremonies moet julle dit onderhou. En Moses het met die kinders van Israel gespreek dat hulle die pasga moes hou. En hulle het pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand teen die aand in die woestyn Sinai; net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen. En daar was sekere manne wat deur die lyk van 'n man verontreinig was, dat hulle die pasga op dié dag nie kon hou nie; en hulle het op dié dag voor Moses en Aäron gegaan. Toe sê daardie manne vir hom: Ons is verontreinig deur die lyk van 'n man; waarom word ons teruggehou, dat ons nie op sy bestemde tyd 'n offer van die HERE onder die kinders van Israel mag bring nie? Toe sê Moses vir hulle: Staan stil, en ek sal hoor wat die HERE aangaande julle sal beveel. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand onder julle of uit julle nageslag onrein is deur 'n lyk of op 'n ver reis is, moet hy tog die pasga tot eer van die HERE hou. Op die veertiende dag van die tweede maand teen die aand moet hulle dit hou en dit saam met ongesuurde brode en bitter kruie eet. Hulle mag niks daarvan tot die môre toe laat nie en geen been daarvan breek nie; volgens al die verordeninge van die pasga moet hulle dit hou. Maar die man wat rein is en nie op reis is nie en nalaat om die pasga te vier, dieselfde siel moet onder sy volk uitgeroei word, omdat hy die offer van die HERE nie op die vasgestelde tyd gebring het nie, daardie man sal sy sonde dra. En as 'n vreemdeling onder julle vertoef en die pasga tot eer van die HERE hou; volgens die insetting van die pasga en volgens die gebruik daarvan, so moet hy doen: een insetting moet julle hê vir die vreemdeling sowel as vir hom wat in die land gebore is.