Wees stil voor my Heer, die HERE,
want die dag van die HERE is naby.
Ja, die HERE het 'n offer voorberei;
Hy het sy genooides geheilig.
“En op die HERE se offerdag
gaan die volgende gebeur:
Ek gaan afreken met die leiers,
met die koning se seuns
en almal wat uitlandse klere dra.
Ek gaan op daardie dag
afreken met elkeen
wat oor die drumpel spring,
wat die huis van hulle heersers
met geweld en bedrog vul.
“Op daardie dag,”
is die uitspraak van die HERE,
“klink daar 'n noodkreet
uit die Vispoort,
'n gekerm uit die nuwe stadsdeel,
'n groot gekraak uit die heuwels.
Weeklaag, inwoners
van die markdistrik,
want al die handelaars
het stil geword;
almal wat silwer afweeg,
is uitgeroei.
In daardie tyd gaan dít gebeur:
Ek gaan Jerusalem
met lampe fynkam,
Ek gaan afreken met die manne
wat verdik op hulle droesem,
wat in hulle hart sê,
die HERE doen nie goed nie
en Hy doen nie kwaad nie.
Hulle rykdom gaan buit word
en hulle huise sal verlate staan.
Hulle gaan huise bou,
maar nie daarin woon nie;
hulle gaan wingerde plant,
maar nie die wyn daarvan
drink nie.
“ Naby is die groot
dag van die HERE,
naby en baie vinnig aan die kom.
Luister! Die dag van die HERE!
Dan skreeu die held bitterlik!
Daardie dag is 'n dag van gramskap,
'n dag van benoudheid en kwelling;
'n dag van verwoesting
en vernietiging,
'n dag van duisternis en donkerte,
'n dag van wolke en diepe duisternis,
'n dag waarop die •ramshoring
en oorlogskrete
oor die versterkte stede
en oor die hoë hoektorings weergalm.
“ Ek gaan die mensdom
in die noute bring,
hulle sal soos blindes voortstrompel,
want hulle het teen die HERE
gesondig.
Hulle bloed sal uitgegiet word
soos stof,
hulle ingewande soos uitwerpsel.
“Nóg hulle goud, nóg hulle silwer
sal hulle kan red
op die dag van die HERE se gramskap.
In die vuur van sy drif
sal die hele aarde verteer word;
ja, 'n gruwelike verwoesting
bring Hy oor al die aardbewoners.”