Wees stil in die teenwoordigheid van die oppermagtige HERE, want die HERE se oordeelsdag is naby. Die HERE berei ’n offerfees voor, sy gaste het Hy reeds voorberei. Die HERE sê: “Op die dag van die offerfees sal Ek die leiers en die prinse straf. Ek sal ook die mense straf wat heidense gewoontes navolg. Op dié dag sal Ek die mense straf wat deelneem aan heidense praktyke. Dit sluit mense in wat ander bedrieg en geweld aandoen sodat die huise van hulle meesters vol gemaak word met buit.” Die HERE sê ook: “Op dié dag sal hulpkrete opgaan by die Vispoort wat tot by die nuwer deel van die stad sal weerklink. Harde knalslae sal vanuit die heuwels opklink. Inwoners van die markplek, huil! Want almal sal sterf wat daar koop en verkoop. In dié tyd sal Ek in Jerusalem al die donker hoekies met lampe deursoek na hulle wat so selftevrede in sonde lewe. Ek sal hulle straf! Hulle dink mos: ‘Die HERE doen niks nie, nie goed of sleg nie.’ Maar die vyand sal juis hierdie mense se besittings plunder en hulle huise verwoes. Hulle sal nie die voorreg geniet om hulle nuwe huise te bewoon nie. Hulle sal ook nie drink van die wyn van die wingerde wat hulle aangeplant het nie. “Die verskriklike Dag van die HERE is naby. Die dag sal in ’n oogwink aanbreek. Bitter uitroepe sal opklink, dapper mans sal huil. Dan sal Hy sy woede uitstort: ’n Tyd van swaarkry en angs. ’n Tyd van verwoesting en vernietiging. Dis ’n donker, uitsiglose tyd, soos ’n swaar bewolkte dag, ’n tyd van trompetgeskal en oorlogskrete wat weerklink oor versterkte stede en vestingtorings. “Ek bring benoudheid oor julle. Julle sal loop soos blindes wat pad soek omdat julle teen My, die HERE, gesondig het. Julle bloed sal uitgegiet word soos stof, julle ingewande soos mis.” Die dag wanneer die HERE sy woede wys, sal julle silwer en goud van geen nut vir julle wees nie. Die vuur van sy ywer sal die hele land verteer. Hy maak ’n skielike einde aan alle mense op die aarde!
Lees SEFANJA 1
Luister na SEFANJA 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: SEFANJA 1:7-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's