SEFANJA 1:7-18

SEFANJA 1:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby! Hy het 'n maaltyd voorberei, en dié wat Hy genooi het, gewy. Op die dag van die maaltyd sal Ek, die Here, die amptenare en die prinse straf, almal wat uitlandse klere dra. Daardie dag sal Ek almal straf wat uit bygeloof nie eens op 'n drumpel trap nie en wat die huis van hulle Koning met geweld en bedrog vul. Daardie dag, sê die Here, sal daar noodkrete klink uit die Vispoort uit, gehuil uit die tweede stadswyk, harde smartkrete van die heuwels af. Huil, inwoners van die Vysel, want al die handelaars word uitgedelg, almal wat geld afweeg, word uitgeroei. Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed óf kwaad nie. Hulle besittings sal geplunder word, hulle huise verwoes word. Hulle sal huise bou, maar nie daarin woon nie, wingerde plant, maar nie die wyn drink nie. Die groot dag van die Here is naby, baie naby, dit kom gou. Luister hoe bitter, hoe skril klink die geskreeu van die soldate dié dag! Dié dag is 'n dag van toorn, 'n dag van nood en benoudheid, 'n dag van storms en verwoesting, 'n dag van donkerte, van duisternis, 'n dag van wolke, van swaar onweer, 'n dag waarop die ramshoring sal blaas en die krygsgeskreeu sal klink teen die vestingstede, teen die hoë hoektorings. Ek laat angs die mense pak sodat hulle soos blindes loop, want hulle het teen My gesondig. Hulle bloed sal vergiet word asof dit so min werd is as stof, asof hulle liggame niks meer as uitwerpsel is nie. Nóg hulle silwer nóg hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek, wanneer die hele land verteer word deur die vuur van sy woede. Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land.

SEFANJA 1:7-18 Die Boodskap (DB)

Die mense van Juda moet besef dat hulle te make het met die Here wat gesag oor alles en almal het. Die beste wat hulle kan doen, is om hulle mond in sy teenwoordigheid te hou. Die tyd is baie naby dat Hy straf gaan uitdeel. Wanneer Hy kom om straf uit te deel, gaan dit wees soos iemand wat ’n offermaaltyd vir gaste hou en dan word die gaste self die offer. Die Here gaan die mense van Juda straf. Wanneer die tyd aanbreek om met hulle af te reken, gaan die Here die leiers en die prinse van Juda straf. Hy gaan ook die mense straf wat die gewoontes van die heidense volke navolg. Dit is ook nie vir die Here aanvaarbaar dat party van die mense net soos die heidene aanbid nie. Hy gaan hulle straf. Hy gaan ook die mense straf wat die koning ryk maak met die skatte wat hulle gekry het deur mense te beroof en te vermoor. Die Here sê wanneer die tyd aanbreek om mense te begin straf, sal daar by ’n ingang van Jerusalem met die naam Vispoort mense wees wat sal skreeu omdat hulle bang en benoud is. Ook in die nuwer deel van die stad sal van die mense hartseer huil. Uit die heuwels in die omgewing sal ’n plofgeluid gehoor kan word soos die afgodsbeelde stukkend val. Dit sal ook droewig gaan met mense wat in die besigheidsgebied van die stad bly, want die besigheidsmense gaan sterf. Wanneer die Here sy beloofde straf gaan begin uitdeel, sal Hy niemand in Jerusalem laat wegkom nie. Hy sal al die arrogante mense en ook dié wat dink hulle het niemand nodig nie, uitsnuffel en straf. Hulle dink mos dat hulle hulle nie oor die Here hoef te bekommer nie, want hulle sê: “Hy doen tog niks, nie goed of kwaad nie.” Maar hierdie arrogante mense se besittings sal gesteel word en hulle huise vernietig word. Dit sal nie help dat hulle huise bou nie, want hulle sal nie die plesier hê om daarin te bly nie. Dit is ook ’n hopelose saak vir hulle om wingerde aan te plant, want hulle sal nooit die kans kry om van die wyn te drink nie. Dit gaan ’n vreeslike tyd wees wanneer die Here mense begin straf. Dit gaan gouer kom as wat mense dink. Dit gaan ’n baie slegte tyd wees. Selfs mense wat vir hulle dapperheid bekend is, sal van vrees skreeu. Hoe lyk hierdie tyd? Dit is ’n tyd waarin mense sal sien dat die Here kwaad is. Juda se mense gaan baie swaarkry en deur vrees verlam word. ’n Mens kan dit beskryf as ’n tyd waarin dinge verwoes en vernietig sal word, ’n donker tyd in Juda se geskiedenis. Die mense kruip in hulle stede weg wat ommuur en versterk is om hulle teen hulle vyande te beskerm. Maar wanneer hulle die trompette hoor blaas en die vyandelike soldate hoor skree, sal hulle weet dat dit oorlog is. Hulle sal so bang wees dat hulle heeltemal deurmekaar en onseker sal voel. Dit alles sal gebeur omdat hulle sonde doen. Die Here hou niks daarvan nie. Hy sal hulle laat doodgaan, want Hy dink dat hulle lewe minder werd is as sand of mis. Wanneer die tyd aanbreek dat die Here hulle gaan straf, sal al hulle rykdom hulle niks help nie. Hulle sal hulleself nie uit die moeilikheid kan loskoop nie. Sy woede sal soos ’n vuur wees wat alles verbrand wat voorkom. In een oomblik sal Hy al die mense op aarde uitwis.

SEFANJA 1:7-18 Bybel vir almal (ABA)

Bly stil, die Here is naby! Die dag van die Here is naby. Die Here maak alles gereed, Hy wil mense slag soos 'n mens diere slag om te offer. Hy het hulle geroep en Hy maak hulle reg om hulle te offer. Die Here sê: “Op daardie dag sal Ek die amptenare en die prinse straf, almal wat klere dra van ander lande. Ek sal almal straf wat nie by die tempel se deur inloop nie, maar wat daar inspring soos die heidene altyd doen. Ek sal almal straf wat wrede dinge doen aan mense. Hulle steel die mense se goed en dan bring hulle die gesteelde goed na die tempel van hulle Koning, die Here.” Die Here sê: “Daardie dag sal hulle hoor hoe roep die mense by die Vis-poort, hulle sal hoor hoe huil die mense in die Tweede Stad. Hulle sal hoor hoe die heuwels stukkend breek. Mense wat in die Vysel woon, julle moet huil, want die handelaars sal sterf. Op daardie dag sal Ek al die mense soek wat in Jerusalem in die donker wegkruip, die mense wat tevrede is en dink hulle het niks nodig nie. Ek sal hulle straf. Hulle is die mense wat sê: ‘Die Here sal niks doen nie, nie iets wat goed is of iets wat sleg is nie.’ Vyande sal hierdie ryk mense se goed wegvat en hulle huise afbreek. Hulle sal weer huise bou, maar hulle sal nie in die huise woon nie. Hulle sal wingerde plant, maar hulle sal nie druiwe kry om wyn te maak nie.” Die groot dag van die Here is naby, dit is baie naby, dit kom gou. Dit sal 'n baie slegte dag wees, en die soldate sal skree. Op daardie dag sal die Here kwaad wees. Op daardie dag sal die mense swaarkry. Op daardie dag sal die stormwinde waai. Op daardie dag sal dit baie donker wees. Op daardie dag sal daar donderwolke wees. Op daardie dag sal die vyande die ramshoring blaas en hulle sal skree. Hulle sal kom en hulle sal die sterk mure en die hoë torings van die stede aanval. Die Here sê: “Ek sal die mense laat swaarkry, want hulle het sonde gedoen teen My. Hulle sal loop soos blinde mense, hulle bloed sal op die grond val soos stof en hulle derms sal uitkom uit hulle liggame.” Hulle het baie silwer en goud, maar dit sal hulle nie help op die dag wanneer die Here hulle wil straf nie. Die Here is baie kwaad. Hy sal die hele aarde verwoes. Hy sal al die mense op die aarde vinnig laat sterf.

SEFANJA 1:7-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby; want die HERE het 'n offer berei, sy gaste geheilig. En op die dag van die offer van die HERE sal Ek besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra. Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog. En op dié dag, spreek die HERE — hoor! 'n geskreeu van die Vispoort af en 'n gehuil van die Nuwe Stad af en 'n groot gekraak van die heuwels af! Huil, o inwoners van die Vysel! want al die koopmans gaan te gronde, almal wat geld afweeg, word uitgeroei. En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie. En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle die wyn daarvan nie drink nie. Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is 'n dag van grimmigheid, 'n dag van benoudheid en angs, 'n dag van woestheid en verwoesting, 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag, 'n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings. En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek. Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, 'n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.

SEFANJA 1:7-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wees stil voor my Heer, die HERE, want die dag van die HERE is naby. Ja, die HERE het 'n offer voorberei; Hy het sy genooides geheilig. “En op die HERE se offerdag gaan die volgende gebeur: Ek gaan afreken met die leiers, met die koning se seuns en almal wat uitlandse klere dra. Ek gaan op daardie dag afreken met elkeen wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle heersers met geweld en bedrog vul. “Op daardie dag,” is die uitspraak van die HERE, “klink daar 'n noodkreet uit die Vispoort, 'n gekerm uit die nuwe stadsdeel, 'n groot gekraak uit die heuwels. Weeklaag, inwoners van die markdistrik, want al die handelaars het stil geword; almal wat silwer afweeg, is uitgeroei. In daardie tyd gaan dít gebeur: Ek gaan Jerusalem met lampe fynkam, Ek gaan afreken met die manne wat verdik op hulle droesem, wat in hulle hart sê, die HERE doen nie goed nie en Hy doen nie kwaad nie. Hulle rykdom gaan buit word en hulle huise sal verlate staan. Hulle gaan huise bou, maar nie daarin woon nie; hulle gaan wingerde plant, maar nie die wyn daarvan drink nie. “ Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie vinnig aan die kom. Luister! Die dag van die HERE! Dan skreeu die held bitterlik! Daardie dag is 'n dag van gramskap, 'n dag van benoudheid en kwelling; 'n dag van verwoesting en vernietiging, 'n dag van duisternis en donkerte, 'n dag van wolke en diepe duisternis, 'n dag waarop die •ramshoring en oorlogskrete oor die versterkte stede en oor die hoë hoektorings weergalm. “ Ek gaan die mensdom in die noute bring, hulle sal soos blindes voortstrompel, want hulle het teen die HERE gesondig. Hulle bloed sal uitgegiet word soos stof, hulle ingewande soos uitwerpsel. “Nóg hulle goud, nóg hulle silwer sal hulle kan red op die dag van die HERE se gramskap. In die vuur van sy drif sal die hele aarde verteer word; ja, 'n gruwelike verwoesting bring Hy oor al die aardbewoners.”

SEFANJA 1:7-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Swyg voor die aangesig van die HERE HERE, want die dag van die HERE is naby; want die HERE het 'n offer berei, Hy het sy gaste aangebied. En op die dag van die offer van die HERE, sal Ek besoeking doen oor die vorste en die koning se kinders en almal wat met vreemde klere aangetrek is. Op dieselfde dag sal Ek ook almal straf wat op die drumpel spring, wat die huise van hulle HERE vul met geweld en bedrog. En in dié dag, spreek die HERE, sal daar 'n geraas van 'n geroep wees van die Vispoort af en 'n gehuil van die tweede af, en 'n groot geraas van die heuwels af. Huil, inwoners van Maktes, want al die handelaars is uitgeroei; almal wat silwer dra, word uitgeroei. En in dié tyd sal Ek Jerusalem deursoek met kerse en besoeking doen oor die manne wat op hulle afsaksel rus, wat in hulle hart sê: Die HERE sal geen goed doen en geen kwaad doen nie. Daarom sal hulle goed 'n buit word en hulle huise 'n wildernis; hulle sal ook huise bou, maar hulle nie bewoon nie; en hulle sal wingerde plant, maar die wyn daarvan nie drink nie. Die groot dag van die HERE is naby, dit is naby en hy is baie haastig, die stem van die dag van die HERE: die held sal daar bitterlik roep. Daardie dag is 'n dag van toorn, 'n dag van benoudheid en benoudheid, 'n dag van verwoesting en verwoesting, 'n dag van duisternis en somberheid, 'n dag van wolke en dik duisternis, 'n Dag van basuin en alarm teen die omheinde stede en teen die hoë torings. En Ek sal benoudheid oor die mense bring, dat hulle soos blindes sal wandel, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal uitgegiet word soos stof en hulle vlees soos die mis. Nie hulle silwer of hulle goud sal hulle kan red op die dag van die toorn van die HERE nie; maar die hele land sal deur die vuur van sy ywer verteer word

SEFANJA 1:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wees stil in die teenwoordigheid van die oppermagtige HERE, want die HERE se oordeelsdag is naby. Die HERE berei ’n offerfees voor, sy gaste het Hy reeds voorberei. Die HERE sê: “Op die dag van die offerfees sal Ek die leiers en die prinse straf. Ek sal ook die mense straf wat heidense gewoontes navolg. Op dié dag sal Ek die mense straf wat deelneem aan heidense praktyke. Dit sluit mense in wat ander bedrieg en geweld aandoen sodat die huise van hulle meesters vol gemaak word met buit.” Die HERE sê ook: “Op dié dag sal hulpkrete opgaan by die Vispoort wat tot by die nuwer deel van die stad sal weerklink. Harde knalslae sal vanuit die heuwels opklink. Inwoners van die markplek, huil! Want almal sal sterf wat daar koop en verkoop. In dié tyd sal Ek in Jerusalem al die donker hoekies met lampe deursoek na hulle wat so selftevrede in sonde lewe. Ek sal hulle straf! Hulle dink mos: ‘Die HERE doen niks nie, nie goed of sleg nie.’ Maar die vyand sal juis hierdie mense se besittings plunder en hulle huise verwoes. Hulle sal nie die voorreg geniet om hulle nuwe huise te bewoon nie. Hulle sal ook nie drink van die wyn van die wingerde wat hulle aangeplant het nie. “Die verskriklike Dag van die HERE is naby. Die dag sal in ’n oogwink aanbreek. Bitter uitroepe sal opklink, dapper mans sal huil. Dan sal Hy sy woede uitstort: ’n Tyd van swaarkry en angs. ’n Tyd van verwoesting en vernietiging. Dis ’n donker, uitsiglose tyd, soos ’n swaar bewolkte dag, ’n tyd van trompetgeskal en oorlogskrete wat weerklink oor versterkte stede en vestingtorings. “Ek bring benoudheid oor julle. Julle sal loop soos blindes wat pad soek omdat julle teen My, die HERE, gesondig het. Julle bloed sal uitgegiet word soos stof, julle ingewande soos mis.” Die dag wanneer die HERE sy woede wys, sal julle silwer en goud van geen nut vir julle wees nie. Die vuur van sy ywer sal die hele land verteer. Hy maak ’n skielike einde aan alle mense op die aarde!