Ek kom na my tuin,
my suster, my bruid.
Ek pluk my mirre met my speserye,
ek eet my heuningkoek
met my heuning,
ek drink my wyn met my melk.
Eet, vriende!
Drink, en word van liefde dronk!
Ek was aan die slaap,
maar my hart was wakker.
Hoor daar! My liefste klop!
“Maak vir my oop,
my suster, my liefling,
my duif, my volmaakte;
my kop is nat van dou,
my lokke deurdrenk
van die nag se dou.”
Ek het my oorkleed al uitgetrek,
moet ek dit weer aantrek?
Ek het my voete al gewas,
moet ek dit weer laat vuil word?
My liefste het sy hand
deur die opening gesteek
en my hart het onstuimig geklop
oor hom.
Ek het opgestaan
om vir my liefste oop te maak.
My hande het gedrup van mirre,
my vingers van vloeiende mirre,
op die handvatsels van die grendel.
Ek het oopgemaak vir my liefste,
maar my liefste het omgedraai
en weggegaan.
Toe hy wegdraai,
het dit geduisel in my.
Ek het na hom gesoek,
maar hom nie gevind nie;
na hom geroep,
maar hy het my nie geantwoord nie.
Die wagte, op hulle rondtes
deur die stad, het my gevind.
Hulle het my geslaan,
hulle het my verwond,
hulle het my sjaal afgeruk,
die wagte by die stadsmure.
Meisies van Jerusalem,
ek besweer julle:
As julle my liefste vind,
wat moet julle vir hom sê?
Dat ek siek is van liefde.