Psalms 73:1-28

Psalms 73:1-28 AFR20

'n Psalm. Van Asaf. God is waarlik vir Israel goed, vir hulle wat rein harte het. Maar ek, my voete het amper gegly my treë was amper wankelrig. Want ek het verwaande mense beny; ek het die voorspoed van goddeloses gesien. Hulle het immers tot hulle dood geen sorge nie; en hulle liggame is vet. Aan die sorge van sterflinge het hulle nie deel nie, en hulle word nie geteister saam met gewone mense nie. Daarom versier hoogmoed hulle nekke, bedek 'n kleed van geweld hulle. Van vet peul hulle oë uit, die versinsels van hulle hart oorskry alle perke. Smalend onderhandel hulle met bose bedoelings; uit die hoogte dreig hulle met afpersing. Hulle rek hulle monde teen die hemel, en laat hulle tonge gaan oor die aarde. Daarom draai sy volk hierheen. Wie vol is, word deur hulle uitgepers, en hulle sê: “Hoe sal God dit weet? Is daar dan kennis by die Allerhoogste?” Kyk, dit is hoe goddeloses is: Immer sorgeloos vermeerder hulle hulle rykdom. Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Ek is die hele dag geteister; my kastyding was elke oggend opnuut daar. As ek sou dink, ek wil soos hulle praat, kyk, dan sou ek ontrou wees aan die nageslag van u kinders. Ek het toe probeer om dit te verstaan, maar het dit as vermoeiend beskou, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het. Ek het insig gekry in hulle uiteinde. Waarlik, U laat hulle op gladde plekke beland, U bring hulle tot 'n val oor hulle geknoei. Hoe word hulle in 'n oogwink 'n skrikbeeld, hoe kom hulle volledig tot 'n einde deur verskrikking! Asof dit 'n droom is waaruit mens wakker word, verag U hulle beeld, my Heer, wanneer U ontwaak. Toe my hart verbitterd was en my niere gepyn het, was ek dom en sonder begrip; ek was 'n dier teenoor U. En tog was ek altyd by U; U het my regterhand vasgehou. Deur die raad wat U gee, lei U my, en daarna neem U my eervol weg. Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie. My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan ten gronde; U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my betref, die nabyheid van God is vir my goed. Ek het my Heer, die HERE, my skuilplek gemaak, sodat ek van al u werk kan vertel.