PSALMS 73:1-28
PSALMS 73:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Waarlik, God is goed vir Israel, vir hulle wat suiwer van hart is. Maar my voet het byna gestruikel. Ek het my vastrapplek byna verloor. Want ek het die verwaandes beny, die goddeloses se voorspoed het ek gesien. Hulle het geen lyding nie, en is vet en gesond. Hulle het nie sorge soos sterflinge, of teëspoed soos ander mense nie. Daarom is trots hulle halssnoer; geweld is vir hulle soos ’n kleed. Hulle uiterlike spel net voorspoed; hulle verwaandheid is grensloos. Hulle spot en praat net kwaad; hooghartig dreig hulle met geweld. Hulle lippe laster teen die hemel en hulle tonge spog op die aarde. So draai sy volk na hulle toe, en neem alles in wat hulle sê. “Besef God wat aangaan?” vra hulle. “Weet die Allerhoogste wat gebeur?” Kyk, so is goddelose mense: altyd sorgvry, besig om rykdom te vermeerder. Het ek dan tevergeefs die kwaad vermy, en my onskuld met ’n eed bevestig? Die hele dag lank moes ek ly, elke oggend is ek opnuut gestraf. As ek sou sê: “Ek sal só praat,” sou ek u kinders verloën het. Ek het nagedink om dit te verstaan; tog was dit vir my ’n moeilike taak, totdat ek ingegaan het in die heiligdom van God, en die uiteinde gesien het van die goddeloses. U plaas hulle op gladde plekke en laat hulle verval tot ’n puinhoop. In ’n oogwink is hulle vernietig, verslind deur verskrikking. Soos ’n droom wat ophou wanneer ’n mens wakker word, so verdwyn hulle beeld wanneer U ontwaak, o Here. Ek was verbitterd in my hart en verskeurd in my binneste. Ek was dwaas en onnosel; ek was dom soos ’n dier voor U. Tog is ek nog altyd by U; U hou my regterhand vas. U lei my met u raad, daarna sal U my opneem en in heerlikheid ontvang. Wie het ek in die hemel behalwe U? Ook op aarde soek ek net vir U. My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd. Dié wat ver van U is, sal omkom; dié wat ontrou is aan U, vernietig U. Maar wat my betref, dit is vir my goed om naby God te wees! Ek het geskuil by die oppermagtige HERE, en sal bly vertel van al u wonders.
PSALMS 73:1-28 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm van Asaf. God is goed vir Israel, dit is seker, Hy is goed vir mense wat aan Hom behoort. En ek? Ek het amper geval, my voete het amper gegly, want ek het gesien dit gaan goed met hoogmoedige mense, die mense wat verkeerd doen, en ek was jaloers op hulle. Want hulle is nie bang vir die dood nie, hulle is vet en gesond. Hulle kry nie swaar soos ander mense nie, niks wat sleg is, gebeur met hulle nie. Daarom is hulle so hoogmoedig en is hulle altyd gereed om ander mense seer te maak. Hulle is baie vet, dit lyk of hulle oë wil uitval, hulle dink hulle kan enige iets doen. Hulle spot en hulle praat oor hoe hulle slegte dinge kan doen, hulle is hoogmoedig en hulle praat oor hoe hulle ander mense kan laat swaarkry. Hulle praat teen almal in die hemel, hulle sê enige iets wat hulle wil sê oor ander mense. Daarom kom luister mense graag na alles wat hierdie mense sê. Die mense wat verkeerd doen, dink dat God nie weet wat hulle doen nie, hulle dink die Hoogste God weet niks. Kyk hoe is die mense wat verkeerd doen, hulle is oor niks bekommerd nie en hulle word ryk. Waarlik, ek het rein gebly en ek het niks gedoen wat verkeerd is nie, maar dit het my niks gehelp nie. Ek het aangehou swaarkry, God het my elke dag gestraf. Maar as ek gedink en gepraat het soos die mense wat verkeerd doen, dan was ek nie meer een van die mense wat aan God behoort nie, dit weet ek. Ek het gedink en ek het dit probeer verstaan, maar dit was moeilik vir my. En toe het ek in die tempel van God gekom en ek het verstaan wat gebeur met die mense wat verkeerd doen. Waarlik, U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle val, daar bly niks oor van hulle nie. Skielik is hulle niks, hulle is baie bang en hulle sterf. Dit gaan met hulle soos met 'n droom, dit is weg wanneer jy wakker word. Here, U laat hulle verdwyn wanneer U dit besluit. Toe ek ongelukkig en hartseer gevoel het, was ek dom, ek het niks verstaan nie, ek was soos 'n dier by U. Maar ek is altyd by U, U hou my hand vas. U leer vir my wat om te doen en U lei my, en eendag sal U my na U toe neem, U wat Koning is. Ek behoort aan U, en daar is niks anders wat ek wil hê in die hemel of op die aarde nie. Wanneer my liggaam en my gees swak is, dan is dit U, o God, wat my Rots is, U wat alles is wat ek wil hê. Dit weet ek, elkeen wat ver van U is, sal sterf, U laat elkeen verdwyn wat ontrou is aan U. Maar ek, dit is vir my goed om naby God te wees, Here, my Here, ek weet U sal my beskerm. Ek sal vir almal vertel wat U doen.
PSALMS 73:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Asaf. Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is. Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien. Want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam. In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie. Daarom is die trots om hulle soos 'n halssieraad, die geweld bedek hulle soos 'n gewaad. Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor. Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte. Hulle stel hul mond teen die hemel, en hul tong wandel op die aarde. Daarom draai hulle mense hul hierheen, en waters in volheid word deur hulle geslurp. En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees? Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom! Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre. As ek gesê het: Ek wil óók so spreek — dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders! Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het. Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val. Hoe word hulle in 'n oomblik 'n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge! Soos 'n droom nadat 'n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld! Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was, toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was 'n dier by U. Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid. Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.
PSALMS 73:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Psalm van Asaf. God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie. Daarom hang die trots aan hulle soos 'n halssnoer en kleef geweld aan hulle soos 'n kleed. In die weelde van hulle voorspoed matig hulle hulle enigiets aan; smalend stook hulle kwaad, hooghartig dreig hulle met geweld. Hulle laster teen die hemel en beledig links en regs op die aarde. Tog hang die volk hulle aan en drink gretig hulle woorde in. Hulle vra: “Hoe sal God dit uitvind? Hoe sal die Allerhoogste dit weet?” Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop! Dat ek die kwaad vermy het en met 'n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf. Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort. Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. In 'n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref 'n verskriklike einde hulle. Net soos 'n droom wat ophou as 'n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp. Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig; soos 'n redelose dier het ek my teenoor U gedra. Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.
PSALMS 73:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. Van Asaf. God is waarlik vir Israel goed, vir hulle wat rein harte het. Maar ek, my voete het amper gegly my treë was amper wankelrig. Want ek het verwaande mense beny; ek het die voorspoed van goddeloses gesien. Hulle het immers tot hulle dood geen sorge nie; en hulle liggame is vet. Aan die sorge van sterflinge het hulle nie deel nie, en hulle word nie geteister saam met gewone mense nie. Daarom versier hoogmoed hulle nekke, bedek 'n kleed van geweld hulle. Van vet peul hulle oë uit, die versinsels van hulle hart oorskry alle perke. Smalend onderhandel hulle met bose bedoelings; uit die hoogte dreig hulle met afpersing. Hulle rek hulle monde teen die hemel, en laat hulle tonge gaan oor die aarde. Daarom draai sy volk hierheen. Wie vol is, word deur hulle uitgepers, en hulle sê: “Hoe sal God dit weet? Is daar dan kennis by die Allerhoogste?” Kyk, dit is hoe goddeloses is: Immer sorgeloos vermeerder hulle hulle rykdom. Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Ek is die hele dag geteister; my kastyding was elke oggend opnuut daar. As ek sou dink, ek wil soos hulle praat, kyk, dan sou ek ontrou wees aan die nageslag van u kinders. Ek het toe probeer om dit te verstaan, maar het dit as vermoeiend beskou, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het. Ek het insig gekry in hulle uiteinde. Waarlik, U laat hulle op gladde plekke beland, U bring hulle tot 'n val oor hulle geknoei. Hoe word hulle in 'n oogwink 'n skrikbeeld, hoe kom hulle volledig tot 'n einde deur verskrikking! Asof dit 'n droom is waaruit mens wakker word, verag U hulle beeld, my Heer, wanneer U ontwaak. Toe my hart verbitterd was en my niere gepyn het, was ek dom en sonder begrip; ek was 'n dier teenoor U. En tog was ek altyd by U; U het my regterhand vasgehou. Deur die raad wat U gee, lei U my, en daarna neem U my eervol weg. Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie. My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan ten gronde; U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my betref, die nabyheid van God is vir my goed. Ek het my Heer, die HERE, my skuilplek gemaak, sodat ek van al u werk kan vertel.
PSALMS 73:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Waarlik, God is goed vir Israel, ook vir die wat rein van hart is. Maar wat my betref, my voete was amper weg; my treë het byna gegly. Want ek was jaloers op die dwase toe ek die voorspoed van die goddelose gesien het. Want daar is geen bande in hulle dood nie, maar hulle krag is vas. Hulle is nie in die moeilikheid soos ander mense nie; hulle word ook nie geteister soos ander mense nie. Daarom omring trotsheid hulle soos 'n ketting; geweld bedek hulle soos 'n kleed. Hulle oë staan uit van vet: hulle het meer as wat die hart kon wens. Hulle is verdorwe en spreek goddeloos oor verdrukking; hulle spreek hooghartig. Hulle het hul mond teen die hemel gerig, en hul tong wandel deur die aarde. Daarom keer sy volk hierheen terug, en die water van 'n vol beker word vir hulle uitgedraai. En hulle sê: Hoe weet God dit? en is daar kennis in die Allerhoogste? Kyk, dit is die goddeloses wat voorspoedig is in die wêreld; hulle vermeerder in rykdom. Voorwaar, ek het my hart tevergeefs gereinig en my hande in onskuld gewas. Want die hele dag lank is ek geteister en elke môre getugtig. As ek sê: Ek sal so spreek; kyk, Ek sou aanstoot gee aan die geslag van jou kinders. Toe ek gedink het om dit te weet, was dit vir my te pynlik; Totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het; toe het ek hulle einde verstaan. Waarlik, U het hulle op gladde plekke gestel, U het hulle in die verderf neergewerp. Hoe word hulle verwoes soos in 'n oomblik! hulle is heeltemal deur verskrikkinge verteer. Soos 'n droom wanneer 'n mens wakker word; so, o HERE, as U wakker word, sal U hulle beeld verag. So was my hart bedroef, en ek is in my niere gesteek. So dwaas was ek en onkundig: ek was soos 'n dier voor jou. Maar ek is altyddeur by jou; jy het my aan my regterhand vasgehou. U sal my lei met u raad en my daarna tot heerlikheid ontvang. Wie het ek in die hemel behalwe U? en daar is niemand op aarde wat ek begeer buiten jou nie. My vlees en my hart beswyk, maar God is die sterkte van my hart en my deel tot in ewigheid. Want kyk, die wat ver van jou af is, sal omkom; jy het almal verdelg wat van jou af hoereer. Maar dit is goed vir my om tot God te nader: ek het my vertroue op die HERE HERE gestel, dat ek al u werke kan verkondig.
PSALMS 73:1-28 Die Boodskap (DB)
God is goed vir almal wat doen wat Hy sê. Vir seker! Maar op ’n dag het ek begin twyfel of dit regtig so is. Ek het amper ophou glo, want toe ek rondom my kyk, het ek gesien hoe goed dit met slegte mense gaan. Hulle is so hoogmoedig. En hulle word by die dag al hoe ryker. En ek was jaloers op hulle. Niks bekommer hulle nie. Hulle is spekvet en gesond. Hulle is oor niks besorg nie. Hulle het geen moeilikheid nie. Hulle loop ewe trots rond. Want met hulle gewere en hulle vuiste los hulle al hulle probleme op. Hulle is vet, en hulle doen net wat hulle wil. Hulle het g’n respek vir iemand nie. Hulle spot met mense en dreig almal. Selfs God loop onder hulle tonge deur. En op aarde beledig hulle links en regs. Almal hang aan hulle lippe. Mense kan nie genoeg van hulle kry nie. Hulle sê vir almal: “God is vas aan die slaap. Wat weet die Allerhoogste van wat ons doen?” Hulle kom weg met moord! Niemand keer hulle nie terwyl hulle al meer geld maak. Ek het verniet gedoen wat God sê. Tevergeefs dat ek onskuldig is. My gebede het niks gehelp nie. Dit was ’n mors van tyd, want elke nuwe dag het daar ’n vrag vol nuwe probleme op my gewag. Daar was geen einde aan my swaarkry nie. Ek is elke dag soos ’n vloerlap behandel. Maar wag! As ek aanhou praat soos nou, sal ek ’n verraaier wees. Ek sal al u kinders verraai, Here! Ek het mooi probeer dink, maar ek kon nie verstaan hoekom ek so moes ly nie. Totdat ek op ’n dag in u heilige plek ingestap het. Toe het ek skielik die volle prentjie gesien: ek het besef waar goddeloses uiteindelik beland. Ek het besef dat slegte mense op ’n baie gladde pad stap. Op ’n dag laat U hulle planne skeefloop, dan beland hulle in die gemors. In ’n oogwink verander hulle lewe in chaos. Hulle kom tot ’n verskriklike einde. Hulle verdwyn so vinnig soos ons drome wanneer ons wakker word. Here, U vee slegte mense in ’n oogwink uit die pad uit. Toe ek kwaad vir U was en gevoel het dat U my verontreg, was ek baie dom, net soos ’n dier sonder verstand. Ek het my onnosel voor U gedra. Gelukkig het U my toe nie alleen gelos nie. U het my nog nooit alleen gelos nie. U hou my hand elke dag vas. U sal my op die pad lei waarop U wil hê ek moet loop. Later sal U ook vir my ’n plek daar by U gee. Here, daar is niemand so belangrik soos U in die hemel nie, ook nie hier op aarde nie. U is my hele lewe. Ek wil niks anders as U hê nie. Al gee my kragte in en al sit ek op moedverloor se vlakte: U, God, is steeds my krag. U is die Rots by wie ek altyd wegkruip. Ek behoort aan U vir altyd. Kyk net: almal wat U verwerp, gaan dood; U skryf hulle af. Maar ek geniet dit om dag na dag by God te wees. Ek kruip by die Here my God weg. Die lewende Here is my huis. Ek vertel vir almal hoe goed U is.