God is goed vir almal wat doen wat Hy sê. Vir seker! Maar op ’n dag het ek begin twyfel of dit regtig so is. Ek het amper ophou glo, want toe ek rondom my kyk, het ek gesien hoe goed dit met slegte mense gaan. Hulle is so hoogmoedig. En hulle word by die dag al hoe ryker. En ek was jaloers op hulle. Niks bekommer hulle nie. Hulle is spekvet en gesond. Hulle is oor niks besorg nie. Hulle het geen moeilikheid nie. Hulle loop ewe trots rond. Want met hulle gewere en hulle vuiste los hulle al hulle probleme op. Hulle is vet, en hulle doen net wat hulle wil. Hulle het g’n respek vir iemand nie. Hulle spot met mense en dreig almal. Selfs God loop onder hulle tonge deur. En op aarde beledig hulle links en regs. Almal hang aan hulle lippe. Mense kan nie genoeg van hulle kry nie. Hulle sê vir almal: “God is vas aan die slaap. Wat weet die Allerhoogste van wat ons doen?” Hulle kom weg met moord! Niemand keer hulle nie terwyl hulle al meer geld maak. Ek het verniet gedoen wat God sê. Tevergeefs dat ek onskuldig is. My gebede het niks gehelp nie. Dit was ’n mors van tyd, want elke nuwe dag het daar ’n vrag vol nuwe probleme op my gewag. Daar was geen einde aan my swaarkry nie. Ek is elke dag soos ’n vloerlap behandel. Maar wag! As ek aanhou praat soos nou, sal ek ’n verraaier wees. Ek sal al u kinders verraai, Here! Ek het mooi probeer dink, maar ek kon nie verstaan hoekom ek so moes ly nie. Totdat ek op ’n dag in u heilige plek ingestap het. Toe het ek skielik die volle prentjie gesien: ek het besef waar goddeloses uiteindelik beland. Ek het besef dat slegte mense op ’n baie gladde pad stap. Op ’n dag laat U hulle planne skeefloop, dan beland hulle in die gemors. In ’n oogwink verander hulle lewe in chaos. Hulle kom tot ’n verskriklike einde. Hulle verdwyn so vinnig soos ons drome wanneer ons wakker word. Here, U vee slegte mense in ’n oogwink uit die pad uit. Toe ek kwaad vir U was en gevoel het dat U my verontreg, was ek baie dom, net soos ’n dier sonder verstand. Ek het my onnosel voor U gedra. Gelukkig het U my toe nie alleen gelos nie. U het my nog nooit alleen gelos nie. U hou my hand elke dag vas. U sal my op die pad lei waarop U wil hê ek moet loop. Later sal U ook vir my ’n plek daar by U gee. Here, daar is niemand so belangrik soos U in die hemel nie, ook nie hier op aarde nie. U is my hele lewe. Ek wil niks anders as U hê nie. Al gee my kragte in en al sit ek op moedverloor se vlakte: U, God, is steeds my krag. U is die Rots by wie ek altyd wegkruip. Ek behoort aan U vir altyd. Kyk net: almal wat U verwerp, gaan dood; U skryf hulle af. Maar ek geniet dit om dag na dag by God te wees. Ek kruip by die Here my God weg. Die lewende Here is my huis. Ek vertel vir almal hoe goed U is.
Lees Psalms 73
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Psalms 73:1-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's